Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jeremia het weer ’n boodskap van die Here ontvang wat hy aan Juda moes oordra.

2. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die Here se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê vir die Judeërs: “‘Almal van julle wat na die tempel toe kom om die Here te aanbid, luister na die boodskap van die Here.

3. “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As julle nou ophou om verkeerde dinge te doen, sal Ek julle in julle land laat bly.

4. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die Here in Jerusalem is nie.

5. Ek sal julle genadig wees slegs as julle ophou om verkeerde dinge te doen en regverdig teenoor ander mense optree.

6. Julle moet ook ophou om vreemdelinge, weduwees en weeskinders uit te buit. Verder moet julle ophou om onskuldige mense te vermoor. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien.

7. “‘As julle dit doen, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly wat Ek lank gelede vir altyd vir julle voorouers gegee het.

8. “‘Maar julle vertrou op bedrieglike woorde wat mislei. Dink julle miskien omdat die tempel hier is, sal julle nie swaarkry nie?

9. Dink julle regtig julle kan maar steel, mense vermoor, egbreuk pleeg, lieg, wierookoffers vir Baäl bring en al die nuwe gode wat julle nie geken het nie, dien

10. en dan hier in my tempel voor My kom staan en sê: Ons is veilig! en daarna voortgaan om hierdie afskuwelike dinge te doen?

11. Dink julle my tempel, wat my Naam eer, is ’n wegkruipplek vir moordenaars? Ont-hou, Ek sien al die boosheid wat daar aangaan, sê die Here.

12. “‘Gaan na my plek in Silo waar Ek voorheen die tabernakel tot my eer opgerig het. Kyk wat het Ek met Silo gedoen omdat my volk Israel bose dinge gedoen het.

13. Die Here sê: Ek het aanhoudend met julle gepraat oor die verkeerde dinge wat julle doen, maar julle wou nie luister nie. Ek het julle probeer terugroep, maar julle het nie na My geluister nie.

14. Soos Ek Silo vernietig het, so sal Ek verseker maak met hierdie tempel wat tot my eer opgerig is, hierdie plek wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

15. Ek sal julle in ballingskap laat gaan soos met Israel gebeur het.’”

16. “Jeremia, moenie meer vir Juda bid nie. Moenie oor hulle huil of vir hulle bid nie. Moet ook nie namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17. Sien jy nie wat hulle in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie?

18. Geen wonder Ek is woedend nie! Die kinders maak hout bymekaar en die pa’s maak die vuur. Die vroue knie deeg en hulle bak koekies om aan die koningin van die hemel te offer en hulle bring drankoffers vir ander afgode! En dit alles net om my eer te krenk.”

19. Die Here vra: “Is dit vir My wat hulle seermaak? Nee, hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7