Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 44:24-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na die boodskap van die Here, julle wat in Egipte woon.

25. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle en julle vroue het mos gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Hou by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26. “Ek sê weer, luister na die Here se boodskap vir al die Judeërs wat in Egipte woon. Hy sê: ‘Ek het ’n eed afgelê en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel plaas. Die mense van Juda wat in Egipte woon, sal my Naam nooit weer gebruik nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n eed neem om krag aan julle woorde te verleen nie. Julle mag nooit weer sê: So waar as die oppermagtige Here lewe nie!

27. Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie; oorloë en hongersnood sal julle tref. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.

28. Net ’n baie klein klompie sal die dood vryspring en uit Egipte na Juda terugkeer. Die groepie Judeërs wat na Egipte gevlug het, sal uitvind wie die waarheid gepraat het en wie nie.

29. “‘Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf.

30. Ek gee farao Hofra, koning van Egipte, oor aan sy vyande wat hom wil doodmaak, nes Ek koning Sedekia van Juda oorgegee het aan koning Nebukadnesar van Babel, wat hom wou doodmaak.’ Dit is wat die Here sê!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 44