Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40:9-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle.

10. Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.”

11. Die Judeërs wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder ook gehoor het dat hy Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het,

12. het hulle uit al die plekke waarheen hulle gevlug het, na die land Juda teruggekeer. Hulle het eers na Gedalja in Mispa gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en somervrugte begin insamel.

13. Kort hierna het Joganan seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe in die platteland na Gedalja in Mispa gekom.

14. Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael seun van Netanja gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.

15. Kort hierna het Joganan in die geheim met Gedalja in Mispa gaan praat. Hy het aangebied om Ismael dood te maak sonder dat iemand daarvan sal weet. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te vermoor? As dit gebeur, sal al die Judeërs wat teruggekom het, net weer uitmekaargedryf word en die groep mense wat in Juda agtergebly het, sal tot niet gaan.”

16. Maar Gedalja het vir Joganan gesê: “Jy mag Ismael nie gaan vermoor nie. Wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 40