Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was, het Jeremia ’n boodskap oor al die mense van Juda ontvang. Dit was die eerste jaar van Nebukadnesar se bewind in Babel.

2. Die profeet Jeremia het vir al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem gesê:

3. “Dit is nou al 23 jaar dat die Here vir my boodskappe gee. Vandag gee Hy my nog boodskappe vir julle. Dit het begin in die dertiende jaar dat Josia seun van Amon koning van Juda was. Ek het altyd al hierdie boodskappe aan julle oorgedra, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.

4. “Die Here het by herhaling sy diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle het nie na hulle geluister nie. Julle het nie eers probeer hoor wat hulle wou sê nie.

5. Die boodskap was: ‘Julle is op ’n verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

6. Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle maak My baie kwaad wanneer julle buig voor gode wat julle met julle eie hande gemaak het. As julle dit staak, sal Ek geen kwaad aan julle doen nie.’

7. “Maar julle het nie na My geluister nie,” sê die Here. “Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle gemaak het. So het julle julleself skade aangedoen.

8. “Die Here, die Almagtige, sê: Omdat julle nie na my boodskap wou luister nie,

9. sal Ek al die leërs uit die noorde bymekaar laat kom, sê die Here, en koning Nebukadnesar van Babel wat in my diens is, sal hulle lei. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly en teen die volke in julle omgewing laat optrek. Ek sal julle heeltemal vernietig en vir altyd verwoes. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal julle verag en met julle spot.

10. Ek sal sorg dat julle nie meer sal bly wees en lag nie. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal ook nie meer opklink nie. Julle besighede sal bankrot wees en julle huise stil en donker.

11. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oor wees. Julle en julle bure sal vir 70 jaar in diens van die koning van Babel wees.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 25