hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sewentig jaar in ’n vreemde

land

1. In die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was, het Jeremia ’n boodskap oor al die mense van Juda ontvang. Dit was die eerste jaar van Nebukadnesar se bewind in Babel.

2. Die profeet Jeremia het vir al die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem gesê:

3. “Dit is nou al 23 jaar dat die Here vir my boodskappe gee. Vandag gee Hy my nog boodskappe vir julle. Dit het begin in die dertiende jaar dat Josia seun van Amon koning van Juda was. Ek het altyd al hierdie boodskappe aan julle oorgedra, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.

4. “Die Here het by herhaling sy diensknegte – die profete – na julle gestuur, maar julle het nie na hulle geluister nie. Julle het nie eers probeer hoor wat hulle wou sê nie.

5. Die boodskap was: ‘Julle is op ’n verkeerde pad. Draai om en hou op om die verkeerde goed te doen waarmee julle besig is. As julle dit doen, kan julle vir altyd in hierdie land bly wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

6. Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Julle maak My baie kwaad wanneer julle buig voor gode wat julle met julle eie hande gemaak het. As julle dit staak, sal Ek geen kwaad aan julle doen nie.’

7. “Maar julle het nie na My geluister nie,” sê die Here. “Julle het My kwaad gemaak met die beelde wat julle gemaak het. So het julle julleself skade aangedoen.

8. “Die Here, die Almagtige, sê: Omdat julle nie na my boodskap wou luister nie,

9. sal Ek al die leërs uit die noorde bymekaar laat kom, sê die Here, en koning Nebukadnesar van Babel wat in my diens is, sal hulle lei. Ek sal hulle teen hierdie land en almal wat in die land bly en teen die volke in julle omgewing laat optrek. Ek sal julle heeltemal vernietig en vir altyd verwoes. Mense sal skrik as hulle julle sien. Hulle sal julle verag en met julle spot.

10. Ek sal sorg dat julle nie meer sal bly wees en lag nie. Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal ook nie meer opklink nie. Julle besighede sal bankrot wees en julle huise stil en donker.

11. Die hele land sal ’n verlate plek wees. Net ’n klomp murasies sal oor wees. Julle en julle bure sal vir 70 jaar in diens van die koning van Babel wees.

12. “Ná die 70 jaar sal Ek die koning van Babel en sy mense straf oor hulle sonde, sê die Here. Ek sal hulle land vir altyd verwoes.

13. Ek sal alles oor hierdie land laat kom soos Ek teen hulle uitgespreek het. Ek het Jeremia gebruik om teen hierdie nasies te profeteer. Dit is alles in hierdie boek opgeskryf.

14. Baie van die nasies met magtige konings sal van die Babiloniërs slawe maak. Op dié manier sal Ek hulle terugbetaal vir alles wat hulle aan julle gedoen het.”

Straf vir die nasies

15. Die Here, die God van Israel, het vir my gesê: “Hierdie wynbeker in my hand is vol van my woede. Neem dit na die nasies waarheen Ek jou stuur en laat hulle daaruit drink.

16. As hulle daaruit drink, sal hulle slinger. Hulle sal rasend raak weens die oorlog waarin Ek hulle laat beland.”

17. Ek het toe die beker by die Here gevat en na al die nasies gegaan na wie Hy my gestuur het. Ek het hulle uit die beker laat drink.

18. Jerusalem en die ander dorpe van Juda het uit die beker gedrink, saam met hulle konings en leiers. Van toe af is die land verwoes en verlate gemaak, ’n voorwerp van spot en ’n vloek. Dit is vandag nog steeds die geval.

19. Ek het ook na Farao, die koning van Egipte, sy amptenare, sy leiers en al sy mense gegaan.

20. Verder ook na die vreemdelinge wat tussen hulle gebly het. Dan ook al die konings van die land Us, al die konings van die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en wat van Asdod oorgebly het,

21. asook Edom, Moab en Ammon,

22. en al die konings van Tirus en Sidon en die lande om die Middellandse See,

23. ook Dedan, Tema, Bus en ander veraf plekke,

24. die konings van Arabië, die konings van die mense wat in die woestyn rondtrek

25. en die konings van Simri, Elam en Medië.

26. Die konings van die lande in die noordelike gebiede, dié wat naby en dié wat ver was, het almal uit die beker gedrink. Al die konings van die wêreld moes daaruit drink. En laaste van almal sal die koning van Babel uit hierdie beker drink.

27. Toe het die Here vir my gesê: “Ek is die Here, die Almagtige, die God van Israel. Sê vir hulle: ‘Drink totdat julle dronk is en opgooi. Drink totdat julle val en nie weer kan opstaan nie. Dit is wat met julle gaan gebeur in die oorlog wat Ek oor julle bring.’

28. As hulle weier om die beker te drink, sê vir hulle: ‘Die Here, die Almagtige, sê julle het nie ’n keuse nie, drink!

29. Ek het reeds begin om Jerusalem te straf, die stad wat My geëer het. Moet Ek hierdie stad oorsien? Hoe kan julle ooit dink om straf vry te spring? Julle het geen kans om dit vry te spring nie. Ek gaan al die inwoners van die wêreld in oorlog dompel. Ek is die Here, die Almagtige. Ek sê dit!’

30. “Profeteer vir almal hierdie boodskappe en sê vir hulle: “‘Die Here sal uit die hoogte brul. Uit sy heilige woonplek sal Hy sy stem laat bulder teen sy eie mense. Hy roep ook hard teen al die mense op die aarde. En sy stem klink soos die geskreeu van mense wat druiwe pars.

31. Sy gebrul sal oor die aarde weergalm, want die Here maak ’n saak teen al die nasies. Hy oordeel al die mense van die wêreld. Boosdoeners laat Hy in oorloë sterf. Dit is wat die Here sê.’”

32. Die Here, die Almagtige, sê: “Let op, rampe gaan die een volkna die ander tref! ’n Groot storm bou op vanaf die verste uithoeke van die aarde!”

33. In dié tyd sal die mense wat deur die Here verslaan is, van een kant van die aarde na die ander kant dood lê. Niemand sal oor hulle huil nie. Niemand sal ook die lyke bymekaarmaak en begrawe nie. Hulle sal soos mis oor die grond versprei lê.

34. Julle herders, julle moet huil en kla. Leiers, rol in die stof rond van hartseer! Die tyd van julle slagting het aangebreek. Julle sal soos ’n kleipot val en aan skerwe breek!

35. Julle kan nêrens heen vlug nie. Daar is geen manier hoe die leiers van die kudde kan ontsnap nie.

36. Hoor hoe huil die herders en kla die leiers van die kudde. Die Here het hulle weiveldeverwoes.

37. Die Here was so kwaad dat Hy hulle vreedsame bestaan verwoes het.

38. Hy is soos ’n leeu wat sy lêplek verlaat op soek na ’n prooi. Hulle land word verwoes deur die vyand se swaard en die Here se woede.