Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 2:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ek sal haar wingerde en vyebome verwoes, dinge waarvan sy sê: ‘Dis betaling wat my minnaars vir my gegee het.’ Ek sal dit tot ’n ruigte maak sodat net wilde diere daarvan sal vreet.

12. Ek sal haar straf vir al die kere dat sy wierook vir die beelde van die Baäls gebrand het, haar behang het met oorringe en juwele, en uitgegaan het om haar minnaars te soek. Maar aan My het sy nie gedink nie,” sê die Here.

13. “Daarom sal Ek haar naderlok en weer terugwen. Ek sal haar na die woestyn toe lei en daar teer dinge vir haar sê.

14. Ek sal daar haar wingerde aan haar teruggee. Dan sal die Akorvlakte verander in ’n deur van hoop. Daar sal sy weer Myne word soos lank gelede toe sy nog jonk was en Ek haar uit slawerny in Egipte bevry het.

15. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal jy My noem ‘my man’ en nie meer ‘my meester’ nie.

16. Israel, Ek sal sorg dat jy jou Baälbeelde sal vergeet. Jy sal selfs hulle name nie meer noem nie.

17. Dan sal Ek ’n ooreenkoms maak met die wilde diere en die voëls en die diere wat op die grond kruip, en Ek sal oorloë en al die oorlogswapens, swaard en boog, uit die land wegneem, alles sodat jy onbevrees in vrede en veiligheid kan lewe.

18. Ek sal jou my vrou maak vir altyd. Ek sal jou aan My vasbind deur regverdigheid en geregtigheid, getroue liefde en deernis.

19. Ek sal getrou aan jou bly en jou Myne maak, en jy sal uiteindelik vir My ken as die Here.

20. “Op daardie dag,” sê die Here, “sal Ek antwoord en die hemel sal die aarde antwoord sodat dit reën.

21. Dan sal die grond antwoord met koring en wyn en olie, en ’n koor sal weerklink: Jisreël (dis God wat saai)!

22. “Dan sal Ek Israel vir Myself plant. Ek sal ontferming betoon aan hulle wat Ek genoem het ‘Geen-ontferming’. En vir hulle wat Ek genoem het: ‘Nie-my-volk-nie’, sal Ek dan sê: ‘Julle is my volk.’ Dan sal hulle antwoord: ‘U is ons God!’”

Lees volledige hoofstuk Hosea 2