Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 1:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Hy het met sy verstandige raadgewers gepraat. Hulle het die gebruike en gewoontes, die wet en die reg geken. Die koning het hulle altyd geraadpleeg.

14. Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was die koning se vertrouelinge. Die sewe mans was hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het. Hulle het die hoogste poste in die koninkryk beklee.

15. “Volgens die wet, hoe moet met Vasti gehandel word?” vra hy hulle. “Sy wou nie gehoorsaam wees aan die opdrag wat koning Ahasveros amptelik deur sy paleisbeamptes aan haar gegee het nie.”

16. Memukan sê toe vir die koning en sy hoë amptenare: “Dit is nie net teen die koning alleen wat koningin Vasti oortree het nie, maar tegelykertyd ook teen al die hoë amptenare en al die volke in al die provinsies van die koning.

17. Sodra haar optrede onder die vroue bekend word, sal hulle oral hulle mans begin minag. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het geweier om te kom.’

18. Die vroue van die hoë amptenare van Persië en Medië sal vandag nog te hore kom wat die koningin gedoen het. Dit gaan vir hulle rede gee om hulle mans ook met minagting te behandel.

19. “As dit reg is vir die koning, vaardig dan ’n skriftelike bevel van Persië en Medië uit wat nooit verander mag word nie, dat Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag kom nie. Die koning sal vir hom ’n ander koningin kry wat dit meer werd is as sy.

20. Sodra die bevel wat die koning uitgevaardig het oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met die nodige eerbied behandel.”

21. Dit het vir die koning en sy hoë amptenare reg gelyk. Die koning het toe gemaak soos Memukan voorgestel het.

22. Hy het na elke provinsie briewe gestuur in hulle eie skrif en in die taal van die mense wat daar bly. Hy het bevel gegee dat elke man baas moet wees in sy eie huis en kan sê wat hy wil.

Lees volledige hoofstuk Ester 1