Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 9:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Van ons voorgeslagte af tot nou toe het ons ons al aan verskriklike oortredings skuldig gemaak. Dit is hoekom U ons, ons konings en ons priesters uitgelewer het aan die mag van die heidense konings van die land. Net soos dit nou die geval is, het hulle ons doodgemaak, gevange geneem, beroof en verneder.

8. “Die Here ons God het nou vir ’n klein rukkie genade aan ons bewys deur toe te laat dat sommige van ons as ’n oorblyfsel oorleef het. Hy het in sy heilige plek vir ons ’n vaste plek gegee. So het God ons moed laat skep en ons vir ’n rukkie losgemaak van ons slawerny.

9. Ons was slawe, maar ons God het ons in sy troue liefde nie in ons slawerny vergeet nie. Hy het toegesien dat die koning van Persië ons goed behandel. Hy het ons vrygelaat sodat ons die tempel van ons God kon herbou en die bouvalle kon herstel. Hy het vir ons in Juda en Jerusalem ’n muur gegee om ons te beskerm.

10. “Wat kan ons nou hieroor sê, ons God? Ons het weer u bevele verontagsaam.

11. U het ons deur u dienaars die profete duidelik beveel en gesê: ‘Die land wat julle sal inneem, sal onrein wees as gevolg van die verwerplike gewoontes van die inwoners van die land. Die land is van hoek tot kant gevul met hulle afskuwelike praktyke.

12. Julle dogters mag nie met hulle seuns trou nie, en julle seuns nie met hulle dogters nie. Moenie hierdie volke se vrede en voorspoed bevorder nie. As julle onderneem om hierdie dinge nie te doen nie, sal julle ’n voorspoedige volk wees. Dit sal met julle goed gaan en julle sal ’n sterk volk wees. Julle sal die voorspoed wat die land oplewer, geniet en dit sal vir ewig julle nageslag se erfenis wees.’

13. “Maar nou word ons gestraf vir die sonde wat ons gedoen het en vir ons groot skuld. Ons straf is eintlik baie minder as wat ons verdien, want U, ons God, het sommige van ons as ’n oorblyfsel laat oorleef.

14. Maar ons verbreek al weer u bevele met ons ondertrouery met mense wat hierdie afstootlike dinge doen. U gaan ons sekerlik in u woede vernietig sodat selfs hierdie oorblyfsel dit nie sal oorleef nie.

15. O Here, God van Israel, U is regverdig! Vandag is ons niks anders as ’n ontsnapte oorblyfsel wat voor U staan nie. Eintlik durf nie een van ons in u teenwoordigheid kom staan as gevolg van ons skuld nie.”

Lees volledige hoofstuk Esra 9