Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 5:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Hiermee wil ons aan u bekendmaak dat ons na die bouterrein van die tempel van die groot God in die provinsie Juda gegaan het. Die bouwerk word met spesiaal voorbereide stene gedoen en balke word ook in die mure ingebou. Die werk word met groot ywer gedoen en hulle maak goeie vordering.

9. Ons het die leiers gevra: ‘Wie het vir julle toestemming gegee om hierdie tempel te herbou en hierdie gebou te herstel?’

10. Ons het ook hulle name gevra sodat ons u kon inlig wie die leiers is.

11. “Hulle het soos volg geantwoord: ‘Ons is die dienaars van die God van die hemel en die aarde. Ons herbou die tempel wat baie lank gelede hier deur ’n beroemde koning van Israel klaar gebou is.

12. ‘Ons voorouers het egter die God van die hemel kwaad gemaak. Daarom het Hy hulle toe aan die mag van die Galdeër koning Nebukadnesar van Babel oorgelewer. ‘Nebukadnesar het hierdie tempel vernietig en die mense na Babilonië in ballingskap weggevoer.

13. Maar koning Kores van Babel het gedurende sy eerste regeringsjaar ’n dekreet uitgevaardig dat hierdie tempel van God herbou moet word.

14. Koning Nebukadnesar het goue en silwer voorwerpe uit die tempel van God in Jerusalem verwyder en in die tempel in Babel gesit. Maar koning Kores het dit weer teruggesit in die tempel in Jerusalem. Hy het die voorwerpe aan Sesbassar, wat hy as goewerneur van Juda aangestel het, vir veilige bewaring gegee.

15. Die koning het hom beveel om hierdie gebruiksvoorwerpe op hulle plek in die tempel in Jerusalem terug te sit. Hy moes ook die tempel van God weer herbou op die plek waar dit oorspronklik was.

16. ‘Hierdie Sesbassar het gekom en die fondasie van die tempel van God in Jerusalem kom lê. Sedertdien het die mense daaraan kom werk, maar dit is nog nie voltooi nie.’

17. “As dit vir u goed is, o Koning, soek dan in die koningsargiewe van Babel of koning Kores wel ’n dekreet uitgevaardig het dat hierdie tempel van God in Jerusalem herbou moet word. Laat ons dan asseblief weet, o Koning, wat u beslissing hieroor is.”

Lees volledige hoofstuk Esra 5