Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 10:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Esra het opgestaan en van die tempel van God af weggegaan na Joganan seun van Eljasib se kamer toe. Hy het geen brood geëet of water gedrink terwyl hy daar was nie, want hy het nog steeds oor die ontrouheid van die teruggekeerde ballinge getreur.

7. ’n Aankondiging is toe deur die hele Juda en Jerusalem gemaak dat al die ballinge wat teruggekom het, na Jerusalem toe moet kom.

8. Die amptenare en die oudstes het ’n besluit geneem oor hierdie aankondiging. As mense hulle in drie dae nie hieraan steur nie, sal hulle hulle eiendom verloor en uit die gemeenskap van die ballinge gestoot word.

9. Al die mense van Juda en Benjamin het binne drie dae in Jerusalem byeengekom. Dit was op 19 Desember. Al die mense het op die oop plein voor die tempel van God gesit. Hulle het van spanning gesit en bewe, maar ook omdat dit hard gereën het.

10. Die priester Esra staan toe op en sê vir hulle: “Julle was ontrou deur met vreemde vroue te trou. Daardeur het julle Israel se skuld nog net meer gemaak.

11. Bely teenoor die Here, die God van julle voorouers, en doen wat Hy wil hê julle moet doen. Maak julle los van die mense van die land en van hierdie vreemde vroue.”

12. Die hele groep mense wat bymekaar was, het hardop uitgeroep: “Dit is goed, ons sal doen wat u sê!

13. Maar u moet besef dat baie mense van die volk betrokke is by hierdie groot oortreding wat ons begaan het. Dit is nie ’n aangeleentheid wat in ’n dag of twee opgelos kan word nie. Boonop is dit die reënseisoen, ons kan nie so onbeskut bly staan nie.

14. “Laat ons leiers namens ons almal optree. Elkeen van ons wat ’n vreemde vrou het, kan dan op ’n vasgestelde tyd saam met die oudstes en regters van elke stad kom. Ons kan dit aanhou doen totdat ons God se verskriklike woede teenoor ons oor hierdie aangeleentheid bedaar.”

15. Net Jonatan seun van Asael, en Jagseja seun van Tikwa was teen hierdie reëling gekant. Hulle het ook van Mesullam en die Leviet Sabbetai steun gekry.

16. Die teruggekeerde ballinge het toe so gemaak. Esra het as priester manne uit die familiehoofde gekies en hulle name opgeskryf. Hulle het op 29 Desember bymekaargekom en die sake begin aanhoor.

17. Eers op 27 Maart van die volgende jaar het hulle met al die gevalle van mans wat met heidense vroue getrou het, klaargemaak.

18. Hier volg die lys van priesters wat met heidense vroue getrou het: Uit die familie van Jesua seun van Josadak en sy ampsgenote, was daar Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja.

Lees volledige hoofstuk Esra 10