Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8:4-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het.

5. Toe het die Here vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het.

6. “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.”

7. Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien.

8. Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry.

9. “Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.”

10. Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is.

11. Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang.

12. Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die Here sien ons nie. Die Here is uit die land uit!’”

13. Toe voeg Hy by: “Kom Ek wys jou nog afskuweliker sondes as dié.”

Lees volledige hoofstuk Esegiël 8