Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 8:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op 17 September, in die sesde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die leiers van Juda in my huis gesit. En die hand van die oppermagtige Here was op my.

2. Ek het iemand gesien wat soos ’n mens lyk. Van die heupe af ondertoe het dit gelyk of hy van ’n brandende vlam gemaak is. En van sy heupe af boontoe het hy soos gloeiende metaal gelyk.

3. Hy het wat na sy hand gelyk het, na my uitgesteek en my aan my hare gevat. Toe het die Gees my in die lug opgetel en Hy het my in ’n visioen wat van God af kom na Jerusalem toe gedra. Ek is na die hek aan die noordekant van die binnehof van die tempel geneem. Daar het ’n groot afgodsbeeld gestaan wat die Here baie kwaad gemaak het.

4. Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het.

5. Toe het die Here vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het.

6. “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.”

7. Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien.

8. Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 8