Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 46:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “So sê die oppermagtige Here: Die oostelike ingang na die binneste muur moet gedurende die ses werksdae van elke week gesluit bly, maar op die Sabbat en Nuwemaanfeeste oopgemaak word.

2. Die regeerder moet van buite af deur die voorportaal ingaan. Dan staan hy by die ingangsdeur terwyl die priester sy brandoffer en vrede-offer bring. Hy aanbid binne die drumpel van die ingang en gaan dan weer terug soos hy gekom het. Die ingang mag nie tot die aand gesluit word nie.

3. Op Sabbatdae en Nuwemaanfeeste moet gewone burgers die Here by hierdie ingang aanbid.

4. “Elke Sabbat moet die regeerder ’n brandoffer van ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, aan die Here offer.

5. Hy moet ook ’n graanoffer van sestien kilogram meel saam met die ram bring. Die offer saam met die lammers kan soveel meel wees as wat hy saam met elke lam wil gee. Daar moet vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel wees.

6. By die Nuwemaanfees moet hy ’n jong bul, ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, bring.

7. Saam met die jong bul en ook saam met die ram moet hy graanoffers van sestien kilogram bring, en saam met die lammers soveel as wat hy kan bekostig. Vir elke sestien kilogram meel moet hy ook vier liter olyfolie offer.

8. “Die regeerder moet deur die voorportaal by die ingang ingaan, en moet ook daar uitgaan.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 46