Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 23:23-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

23. Die Babiloniërs sal saam met al die Galdeërs kom vanaf Pekod en Soa en Koa. En die Assiriërs sal saam met hulle kom – aantreklike jong goewerneurs en bevelvoerders, offisiere en belangrike mense, almal te perd.

24. Hulle sal vanuit die noorde teen jou kom met strydwaens, waens en ’n groot leërmag. Hulle sal aan elke kant teen jou stelling inneem en jou omring met soldate wat gereedstaan vir die geveg. Ek sal jou aan hulle oorgee, en hulle sal met jou maak net wat hulle wil.

25. Ek stort my wraak uit oor jou. Hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en ore afsny. Enigeen wat dit oorleef, sal in die geveg doodgemaak word. Hulle sal jou kinders wegvoer en alles wat agterbly, verbrand.

26. Jou klere en juwele sal hulle vir hulleself vat.

27. So maak Ek ’n einde aan jou afstootlike optrede en prostitusie wat jy van Egipte af saamgebring het. Jy sal nooit weer na jou minnaars soek nie, en nie meer aan Egipte dink nie.

28. “So sê die oppermagtige Here: Ek sal jou oorgee aan jou vyande, dié wat jy geminag het.

29. Hulle sal jou met haat behandel, alles vat waarvoor jy gewerk het, en jou kaal agterlaat. Die hele wêreld sal jou kaal sien staan in jou afskuwelike onsedelikheid.

30. Ek het dit alles oor jou gebring omdat jy ’n prostituut vir die nasies geword het en jou met hulle afgode besoedel het.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 23