Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:8-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “As die eerste teken hulle nie oortuig het om jou woord te glo nie, dan sal hierdie tweede een hulle oorreed,” het die Here gesê.

9. “As hulle ná hierdie twee tekens nog steeds nie oortuig is om jou woord te aanvaar nie, moet jy water uit die Nylrivier skep en dit op die grond uitgooi. Dit sal in bloed verander.”

10. Moses het by die Here gepleit: “Ag, Here,ek is nie goed met my mond nie. Ek was nog nooit iemand wat goed kon praat nie. Selfs waar U nou hier met my praat, haak my tong vas.”

11. “Wie gee vir die mens ’n mond?” vra die Here hom. “Wie maak mense stom of doof? Wie laat hulle sien of maak hulle blind? Is dit nie maar net Ek, die Here, nie?

12. Loop, gaan maak soos Ek vir jou sê! Ek sal jou goed laat praat en vir jou voorsê wat jy moet sê.”

13. Maar Moses het bly pleit: “Here, stuur asseblief tog iemand anders.”

14. Toe het die Here Hom vir Moses vererg. “Goed,” het Hy gesê. “Wat van jou broer, Aäron, uit die Leviete? Hy kan tog goed praat. Hy is alreeds op pad om jou te kom ontmoet. Hy gaan baie bly wees om jou weer te sien.

15. Jy sal vir hom voorsê wat om te sê. Ek sal julle help om te praat en vir julle sê wat moet gebeur.

16. Aäron sal namens jou met die volk praat. Hy sal jou mond wees. Jy sal soos God wees wat vir hom voorsê wat hy moet sê.

17. Maak seker dat jy jou herderstok by jou het sodat jy daarmee die tekens kan doen wat Ek jou geleer het.”

18. Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.” “Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê.

19. Terwyl Moses nog in Midian was, het die Here vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.”

20. Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou.

21. Die Here het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek.

22. Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die Here: Israel is my oudste seun.

23. Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4