Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 4:19-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Terwyl Moses nog in Midian was, het die Here vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.”

20. Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou.

21. Die Here het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek.

22. Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die Here: Israel is my oudste seun.

23. Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’”

24. Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die Here het na Moses toe gekom om hom dood te maak.

25. Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.”

26. (Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die Here het hom hierna met rus gelaat.

27. Die Here het vir Aäron gesê: “Gaan ontmoet Moses in die woestyn.” Aäron het gegaan en Moses by die berg van God teëgekom. Hy het hom omhels.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 4