Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 38:16-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Al die materiaal reg rondom die binnehof was van fyn linne.

17. Al die voetstukke was van koper en al die relings en hakies was van silwer. Die regop pale was aan hulle bokante met silwer oorgetrek. Die relings waaraan die materiaal vir die mure gehang het, was ook van silwer.

18. Die gordyn by die ingang van die binnehof is gemaak van geweefde linne. Daar was blou, pers en bloedrooi wol ingeweef en dit was ook geborduur. Dit was tien meter breed en soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, twee meter hoog.

19. Dit het aan vier regop pale op vier kopervoetstukke gehang. Die bopunte van die regop pale, die relings tussen die pale waaraan die materiaal gehang het en die hakies wat gebruik is, was alles van silwer.

20. Al die tentpenne waarmee die tabernakel en die mure rondom die voorhof geanker was, was van koper.

21. Hier volg nou ’n lys van die materiaal wat gebruik is om die tent te maak waarin die klippe met getuienis was. Moses het die Leviete opdrag gegee om dit alles op te skryf. Hulle het dit onder leiding van die priester Aäron se seun Itamar gedoen.

22. Besaleël, seun van Uri en kleinseun van Gur van die Judastam, het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.

23. Oholiab, Agisamak se seun uit die Danstam, het hom gehelp. Hy het uitgemunt in die ontwerp en weef van blou, pers en bloedrooi wol en linne.

24. Die goud wat die volk vrywillig gebring het om die tabernakel te bou, was in totaal 1 002 kilogram.

25. Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was altesaam 3 447 kilogram volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26. Toe hulle getel is, moes elke man bo twintig ses gram silwer betaal. In die sensus is 603 550 mans getel.

27. Om die 100 voetstukke vir die regop pale van die binnehof te maak, is 100 stawe silwer gebruik. Dit was 34 kilogram vir elke voetstuk.

28. Van die silwer wat oor was, is die hakies en die relings gemaak en die bokante van die regop pale oorgetrek.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 38