Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2:5-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal.

6. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.

7. Die seuntjie se suster het toe nadergekom en die prinses gevra: “Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan haal om die baba vir u te versorg?”

8. “Ja, asseblief,” het die farao se dogter geantwoord. Die meisie het die seuntjie se ma gaan roep.

9. “Vat hierdie babatjie en gaan voed hom,” het die farao se dogter vir haar gesê. “Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy eie ma het hom gevat en gaan versorg.

10. Toe hy groot genoeg was, het sy hom na die farao se dogter gevat en sy het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het hom “Moses” genoem, “want,” het sy gesê, “ek het hom uit die water gehaal.”

11. Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand.

12. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe.

13. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?”

14. “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.”

15. Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit,

16. het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 2