Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 12:19-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. Vir sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd iets eet met suurdeeg in sal uit die gemeenskap van Israel weggejaag word. Dit geld vir sowel gaste wat by julle oorbly as gebore Israeliete.

20. Julle mag gedurende daardie tyd niks eet wat suurdeeg in het nie. Waar julle ook al woon, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.”

21. Moses het toe die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Laat elke gesin vir hulle ’n rammetjie vang sodat hulle dit vir die Paasfees kan slag.

22. Vang die dier se bloed op in ’n houer. Vat dan ’n takkie van ’n hisopboom en doop dit in die bloed. Verf dan die bloed bo-aan die kosyn met die hisoptak en aan die kant van die huis se deur. Niemand mag by die deur uitgaan voor die volgende oggend nie.

23. Die Here gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die Here by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie.

24. “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld.

25. Wanneer julle in die land kom wat die Here belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou.

26. Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’

27. moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die Here. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’” Die volk het toe afgebuk en die Here aanbid.

28. Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die Here vir hulle deur Moses en Aäron gesê het.

29. Teen middernag het die Here al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek.

30. Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie.

31. Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die Here soos julle gevra het.

32. Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!”

33. Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!”

34. Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 12