Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 10:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die Here sê toe vir Moses: “Gaan weer terug na die farao toe. Ek het hom en sy amptenare onwillig gemaak sodat Ek hierdie rampe oor hulle kan laat kom.

2. Jy sal vir jou nageslag kan vertel wat Ek alles met die Egiptenaars gedoen het en wat Ek alles tussen hulle laat gebeur het. Ek doen dit sodat julle kan weet dat Ek die Here is.”

3. Moses en Aäron is toe weer na die farao toe. Hulle het vir hom gesê: “Die Here, die God van die Hebreërs, vra vir jou: ‘Hoe lank gaan jy aanhou weier om na My te luister? Laat my volk gaan sodat hulle My kan gaan aanbid.

4. As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, gaan Ek môre sprinkane oor jou hele land laat kom.

5. Daar sal so baie van hulle wees dat jy nie eers die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal alles wat van die haelstorm oorgebly het, wegvreet. Hulle sal selfs die bome wat weer begin uitloop het, kaal stroop.

6. Hulle sal inkruip in jou paleis en in jou amptenare se huise en in al die huise in Egipte. Vandat jou voorgeslag hier woon, het niemand in Egipte nog ooit so ’n groot ramp beleef nie!’” Nadat hy dit gesê het, het Moses sy rug op die farao gedraai en weggeloop.

7. Die farao se amptenare het toe by hom kom kla: “Hoe lank gaan u nog toelaat dat hierdie rampe aangaan? Laat tog die mans gaan dat hulle die Here hulle God kan gaan aanbid. Sien u nie dat Egipte in duie stort nie?”

8. Moses en Aäron is toe weer teruggeroep na die farao toe. “Goed,” het hy gesê, “gaan dan tog en aanbid die Here julle God. Sê net ’n bietjie vir my wie gaan almal saam?”

9. “Ons gaan almal saam, van oud tot jonk,” het Moses geantwoord. “Ons vat ons seuns en ons dogters en al ons beeste en ons vee saam. Ons moet almal deelneem aan die fees vir die Here.”

10. Die farao het geantwoord: “Die Here sal beslis eers vir julle moet help voordat ek julle met al julle afhanklikes net so sal laat gaan. Julle voer een of ander skelm plan in die mou.

11. Nee, net die mans mag gaan om tot die Here te bid. Dit is waarvoor julle gevra het.” Toe het die farao hulle weggejaag.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 10