Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:13-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. “Die Here het vir my gesê: ‘Ek het gesien hoe ’n hardkoppige volk hierdie is.

14. Moet My nie probeer keer om die volk te vernietig en hulle naam onder die hemel uit te vee nie. Ek sal egter van jou afstammelinge ’n sterk nasie maak, ’n nasie groter en sterker as hulle.’

15. Ek het toe afgekom van die brandende berg met die twee kliptafels van die verbond in my hande.

16. Ek gesien hoe julle daaronder teen die Here julle God gesondig het. Julle het ’n goue bulkalf gemaak. Hoe gou tog het julle nie afgedwaal van die pad wat die Here julle beveel het om te volg nie!

17. Ek het toe die twee kliptafels wat ek in my hande gehad het, voor julle oë flenters gegooi.

18. Ek het voor die Here neergeval en vir 40 dae en 40 nagte voor Hom bly lê sonder om iets te eet of te drink. Ek het dit gedoen omdat julle gesondig het deur iets te doen wat die Here haat en wat Hom baie kwaad gemaak het.

19. Ek was bang, want die woede van die Here was so erg dat Hy julle wou uitroei. Maar die Here het weer ’n keer na my geluister.

20. Die Here was so kwaad vir Aäron dat Hy hom om die lewe wou bring. Maar in dié tyd het ek ook vir Aäron gebid.

21. Ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, gevat en dit in vuur gesmelt en dit toe tot ’n fyn stof gemaal. Ek het die stof in die stroom gegooi wat bergaf vloei.

22. “Julle het die Here ook by Tabera, by Massa en by Kibrot-Taäwa kwaad gemaak.

23. By Kades-Barnea het die Here julle weggestuur met hierdie bevel: ‘Trek op en neem die land wat Ek aan julle gee, in besit.’ Julle het teen die bevel van die Here julle God in opstand gekom en geweier om Hom te vertrou of te gehoorsaam.

24. So lank as wat ek julle ken, was julle altyd teen die Here in opstand.

25. “Dit is waarom ek neergeval en vir 40 dae en nagte voor die Here gelê het omdat Hy gereed was om julle te vernietig.

26. Ek het tot die Here gebid en gesê: ‘O oppermagtige Here, moenie u eie volk vernietig nie. Hulle is u eiendom wat U uit Egipte verlos het deur u groot mag en wonderlike krag.

27. Onthou eerder u dienaars Abraham, Isak en Jakob en sien maar die hardkoppigheid, opstandigheid en sonde van hierdie volk oor.

28. As U hierdie volk nou gaan vernietig, sal die Egiptenaars sê: Die Here het hierdie volk vernietig omdat Hy nie in staat was om die land aan hulle te gee waarvan Hy gesweer het dat Hy dit vir hulle sal gee nie. Of hulle kan ook sê: Hy vernietig hulle omdat Hy hulle haat. Hy het hulle na die woestyn toe gevat om hulle daar om die lewe te bring.

29. Dit is u volk, u eiendom, wat U uit Egipte gebring het deur u groot mag en wonderlike krag.’”

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9