Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:9-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Jy mag hulle nooit voor hulle neerbuig om hulle te aanbid nie. Ek die Here jou God is ’n God wat onverdeelde lojaliteit eis. Ek hou die sondes van die vaders teen die kinders tot so ver as drie en vier geslagte lank.

10. My liefde deel Ek egter oorvloedig uit aan die mense wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam, selfs tot so ver as duisend geslagte aan.

11. “‘Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie. Die Here sal jou nie ongestraf laat bly wanneer jy sy Naam sonder respek gebruik nie.

12. “‘Hou die Sabbatdag heilig soos wat die Here jou God jou beveel het.

13. Ses dae lank moet jy aangaan met jou werk en jou take afhandel.

14. Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Op dié dag mag niemand in jou huishouding enige werk doen nie. Nie jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, jou beeste en donkies of ander diere, of enige vreemdeling wat by jou woon nie. Al jou slawe en slavinne moet rus soos jy.

15. Onthou dat jy vroeër slawe in Egipte was en dat die Here jou God jou met groot krag en magtige dade daaruit gebring het. Dit is waarom die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier.

16. “‘Behandel jou pa en ma met respek, soos wat die Here jou God jou beveel om te doen. Dan sal jy lank en gelukkig lewe in die land wat die Here jou God aan jou gee.

17. “‘Moenie iemand doodmaak nie.

18. “‘Moenie egbreuk pleeg nie.

19. “‘Moenie iets steel nie.

20. “‘Moenie valse verklarings oor jou naaste aflê nie.

21. “‘Moenie jou naaste se vrou begeer nie. Moenie jou naaste se huis of grond, slaaf of slavin, bees of donkie of enigiets anders wat aan jou naaste behoort, begeer nie.’”

22. “Die Here het hierdie woorde met ’n harde stem aan almal van julle gesê. Dit was vanuit die vuur omring met wolke en in stikdonkerte. Dit is al wat Hy toe gesê het. Hy het sy woorde ook op twee kliptafels geskryf en dit vir my gegee.

23. Toe julle die stem uit die donkerte hoor, met die berg wat in vlamme staan, het al julle stamleiers na my toe gekom.

24. Hulle het gesê: ‘Die Here ons God het ons sy glorie en grootheid gewys. Ons het sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met mense praat en hulle bly nog leef!

25. Maar nou, waarom sou ons moet doodgaan? As die Here ons God weer met ons sou praat, sal ons verseker doodgaan en verteer word deur die vreeslike vuur.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5