Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5:14-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Op dié dag mag niemand in jou huishouding enige werk doen nie. Nie jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, jou beeste en donkies of ander diere, of enige vreemdeling wat by jou woon nie. Al jou slawe en slavinne moet rus soos jy.

15. Onthou dat jy vroeër slawe in Egipte was en dat die Here jou God jou met groot krag en magtige dade daaruit gebring het. Dit is waarom die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier.

16. “‘Behandel jou pa en ma met respek, soos wat die Here jou God jou beveel om te doen. Dan sal jy lank en gelukkig lewe in die land wat die Here jou God aan jou gee.

17. “‘Moenie iemand doodmaak nie.

18. “‘Moenie egbreuk pleeg nie.

19. “‘Moenie iets steel nie.

20. “‘Moenie valse verklarings oor jou naaste aflê nie.

21. “‘Moenie jou naaste se vrou begeer nie. Moenie jou naaste se huis of grond, slaaf of slavin, bees of donkie of enigiets anders wat aan jou naaste behoort, begeer nie.’”

22. “Die Here het hierdie woorde met ’n harde stem aan almal van julle gesê. Dit was vanuit die vuur omring met wolke en in stikdonkerte. Dit is al wat Hy toe gesê het. Hy het sy woorde ook op twee kliptafels geskryf en dit vir my gegee.

23. Toe julle die stem uit die donkerte hoor, met die berg wat in vlamme staan, het al julle stamleiers na my toe gekom.

24. Hulle het gesê: ‘Die Here ons God het ons sy glorie en grootheid gewys. Ons het sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons gesien dat God met mense praat en hulle bly nog leef!

25. Maar nou, waarom sou ons moet doodgaan? As die Here ons God weer met ons sou praat, sal ons verseker doodgaan en verteer word deur die vreeslike vuur.

26. Watter mens kan die stem van die lewende God vanuit die vuur hoor en dit oorleef?

27. Gaan jy en luister na wat die Here ons God sê. Kom dan terug en vertel ons alles oor wat Hy vir jou gesê het. Ons sal luister en daaraan gehoorsaam wees.’

28. “Die Here het julle versoek gehoor en vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat die mense vir jou gesê het en hulle is reg.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 5