Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 16:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Braai die lam en eet dit op die plek wat die Here jou God sal kies. Gaan dan die volgende môre terug na julle huise toe.

8. Vir die volgende ses dae mag jy net brood eet waarin daar nie suurdeeg is nie. Op die sewende dag moet die volk voor die Here jou God bymekaarkom. Op daardie dag mag jy glad nie werk nie.”

9. “Tel sewe weke af vandat jy met die graanoes begin het.

10. Vier dan die Fees van die Weke om die Here jou God te eer. Bring ’n vrywillige offer aan Hom in verhouding met die seën wat jy ontvang het.

11. Dit is ’n tyd om vrolik te wees in die teenwoordigheid van die Here jou God op die plek wat Hy sal kies waar sy Naam geëer sal word. Vier die fees saam met jou hele gesin, al jou slawe, die Leviete uit die dorpe, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees wat by jou is.

12. Onthou dat jy ’n slaaf was in Egipte. Wees daarom versigtig om al die gebooie te gehoorsaam.”

13. “’n Ander fees, die Huttefees, moet aan die einde van die oestyd sewe dae lank gevier word. Dit gebeur nadat die graan van die dorsvloer en die druiwe van die parskuip ingesamel is.

14. Die fees is ’n vrolike geleentheid van blydskap saam met jou huisgesin, jou slawe, die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees uit jou omgewing.

15. Vier hierdie fees sewe dae lank om aan die Here jou God eer te gee op die plek wat Hy kies. Dit is die Here jou God wat aan jou goeie oeste gee en jou seën in al jou werk. Hierdie fees is ’n tyd van uitbundige vrolikheid vir almal.

16. “Elkeen in Israel moet elke jaar hierdie drie feeste vier: Paasfees, Fees van die Weke en die Huttefees. Elke man moet voor die Here jou God kom verskyn en elkeen moet ’n gawe vir die Here bring op die plek wat Hy sal kies.

17. Elkeen moet na sy vermoë gee ooreenkomstig die seën wat hy van die Here jou God ontvang het.”

18. “In al die dorpe wat die Here jou God vir jou gee, moet regters en amptenare aangestel word. Hulle moet die volk regverdig regeer.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 16