Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6:10-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Koning Darius het die wet uitgevaardig en dit onderteken.

11. Toe Daniël hoor dat die wet onderteken is, het hy huis toe gegaan. Hy het daar ’n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ’n dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen.

12. Die amptenare het toe bymekaargekom en op Daniël afgekom waar hy besig was om tot sy God te bid.

13. Hulle is na die koning toe oor die wet wat hy gemaak het. Hulle vra vir hom: “Het u nie die wet onderteken dat enige persoon wat gedurende die volgende 30 dae tot enige god of mens bid, behalwe tot u, vir die leeus gegooi sal word nie?” Die koning antwoord: “Ja, ek het. ’n Wet van Mede en Perse kan nooit verander word nie.”

14. Hulle sê toe vir die koning: “Daniël, een van die Judese ballinge steur hom nie aan u of aan u wet nie. Hy bid drie maal elke dag.”

15. Toe die koning dit hoor, was hy baie kwaad vir homself. Hy het gedink oor hoe hy Daniël kon red. Hy het die res van die dag probeer om Daniël te bevry.

16. Die mans is weer saam na die koning toe. Hulle sê vir hom: “O Koning, u weet tog dat ’n wet wat die koning geteken het volgens die reël van Mede en Perse vasstaan. Dit kan nie verander word nie.”

17. Die koning het toe beveel dat Daniël gevange geneem en in die leeuhok gegooi moet word. Hy het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien jou red.”

18. Hulle het ’n klip gebring en dit voor die ingang van die hok gesit. Die koning het dit met sy seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël sodat niemand daarmee kon peuter en Daniël uithaal nie.

Lees volledige hoofstuk Daniël 6