hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daniël in die leeuhok

1. Die Mediër Darius het koning geword toe hy 62 jaar oud was.

2. Darius het dit goedgedink om 120 amptenare oor sy koninkryk aan te stel.

3. Oor hulle het hy drie hoofde aangestel as toesighouers wat na die koning se belange moes omsien. Daniël was een van die drie.

4. Daniël was besonder bekwaam en het homself van die amptenare en die ander hoofde onderskei. Die koning het selfs oorweeg om hom oor sy hele ryk aan te stel.

5. Die amptenare en hoofde het toe begin fout soek om iets oor sy werk teen Daniël in te bring. Hulle kon nêrens enige fout kry nie. Daniël was betroubaar en daar kon niks gekry word waarin hy nalatig was nie.

6. Omdat hulle niks teen hom kon kry nie, het hierdie mense toe besluit dat hulle op grond van sy godsdiens iets teen hom sou kry.

7. ’n Groep van die amptenare en hoofde is toe na die koning toe. Hulle sê vir hom: “Koning Darius, mag u nog lank lewe!

8. Al die hoofde in die ryk, die hoofgoewerneurs, die hoofamptenare, die raadgewers en die goewerneurs beveel by u aan dat die koning ’n dekreet uitvaardig en bekragtig dat enigeen wat gedurende die volgende 30 dae enige god of mens behalwe die koning vereer, in ’n hok met leeus gegooi sal word.

9. U Majesteit moet die wet opstel en dit onderteken sodat dit kan staan as wet van Mede en Perse wat nie verander kan word nie.”

10. Koning Darius het die wet uitgevaardig en dit onderteken.

11. Toe Daniël hoor dat die wet onderteken is, het hy huis toe gegaan. Hy het daar ’n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ’n dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen.

12. Die amptenare het toe bymekaargekom en op Daniël afgekom waar hy besig was om tot sy God te bid.

13. Hulle is na die koning toe oor die wet wat hy gemaak het. Hulle vra vir hom: “Het u nie die wet onderteken dat enige persoon wat gedurende die volgende 30 dae tot enige god of mens bid, behalwe tot u, vir die leeus gegooi sal word nie?” Die koning antwoord: “Ja, ek het. ’n Wet van Mede en Perse kan nooit verander word nie.”

14. Hulle sê toe vir die koning: “Daniël, een van die Judese ballinge steur hom nie aan u of aan u wet nie. Hy bid drie maal elke dag.”

15. Toe die koning dit hoor, was hy baie kwaad vir homself. Hy het gedink oor hoe hy Daniël kon red. Hy het die res van die dag probeer om Daniël te bevry.

16. Die mans is weer saam na die koning toe. Hulle sê vir hom: “O Koning, u weet tog dat ’n wet wat die koning geteken het volgens die reël van Mede en Perse vasstaan. Dit kan nie verander word nie.”

17. Die koning het toe beveel dat Daniël gevange geneem en in die leeuhok gegooi moet word. Hy het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien jou red.”

18. Hulle het ’n klip gebring en dit voor die ingang van die hok gesit. Die koning het dit met sy seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël sodat niemand daarmee kon peuter en Daniël uithaal nie.

19. Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie. Daar is nie soos gewoonlik vir hom musiek gemaak nie. Hy kon ook nie daardie nag slaap nie.

20. Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan.

21. Naby die hok het hy angstig na Daniël geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?”

22. Daniël het die koning geantwoord: “Mag die koning lank lewe!

23. My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerds teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.”

24. Die koning was baie bly hieroor. Hy het gesê dat Daniël uit die hok gehaal moes word. Daniël is daar uitgehaal en daar was geen skrapie aan hom nie, want hy het op sy God vertrou.

25. Die koning het toe beveel dat daardie mans wat Daniël wou verontreg, saam met hulle kinders en vroue in die leeuhok gegooi moes word. Hulle het skaars grond gevat in die hok of die leeus het hulle verskeur.

26. Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en tale oor die hele aarde ’n brief geskryf: “Hartlike groete vir julle almal!

27. Ek vaardig ’n bevel uit dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël.Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan.Sy koninkryk ken geen einde nie en sy regering het geen grense nie.

28. Hy bevry en Hy red. Hy rig tekens op en doen wonders bo in die hemel en onder op die aarde. Hy het Daniël gered uit die mag van die leeus.”

29. Hierna het Daniël voorspoedig in Darius se ryk gelewe en ook in dié van Kores die Pers.