Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:15-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die geleerdes en towenaars het probeer om te lees wat hier geskryf staan en te verklaar wat dit beteken. Maar hulle was nie in staat om dit te verduidelik nie.

16. Ek het gehoor jy kan verklarings gee en raaisels oplos. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my sê wat dit beteken, sal ek vir jou die pers klere van ’n koning gee, ’n goue ketting om jou nek hang en jou in die derde posisie in my koninkryk aanstel.”

17. Daniël antwoord die koning: “U kan maar die geskenke vir uself hou of die beloning maar vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en vir u sê wat dit beteken.

18. U Majesteit, God die Allerhoogste het die koninkryk met sy grootsheid, eer en aansien vir u voorganger Nebukadnesar gegee.

19. Hy het hom so groot gemaak dat volke, nasies en tale vir hom bang was. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat lewe wie hy wou. Hy het aangestel wie hy wou en verneder soos hy lus gekry het.

20. Toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy van sy troon afgesit en sy eer is van hom weggeneem.

21. Hy is van die mense af weggejaag en het soos ’n dier geword. Hy het tussen die wilde donkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Die dou van die lug het op hom geval, totdat hy erken het dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die wêreld en daaroor aanstel wie Hy wil.

22. “Belsasar, U is sy opvolger. Alhoewel u dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie.

23. U het u teenoor die Heer van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster, hout en klip gemaak is, wat nie eers kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid en nie die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal, vereer nie.

24. Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf.

25. “Daar staan geskryf: ‘Mene, mene, tekel, ufarsin.’

26. Dit beteken: “‘Mene’ – God het die aantal dae van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ’n einde.

27. “‘Tekel’ – u is op die skaal geweeg en te lig gevind.

28. “‘Peres’ – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.”

29. Belsasar het toe opdrag gegee en daar is vir Daniël die pers klere van ’n koning aangetrek, ’n goue ketting is om sy nek gehang en ’n dekreet is uitgevaardig dat hy derde in rang in die koninkryk sal wees.

30. Daardie selfde nag nog is Belsasar die koning van die Babiloniërs doodgemaak.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5