Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Belsasar het vir 1 000 van sy vooraanstaande amptenare ’n groot fees gehou. Hy het saam met hulle wyn gedrink.

2. Terwyl Belsasar so aan die drink was, het hy beveel dat die goue en silwer voorwerpe wat sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem verwyder het, daarnatoe gebring word. Die koning wou saam met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit drink.

3. Hulle het toe die goue eetgerei gebring wat uit die woonplek van God in Jerusalem gevat is. Die koning het toe saam met sy amptenare, sy vroue en byvroue daaruit begin drink.

4. Terwyl hulle wyn gedrink het, het hulle hulle afgode wat van goud, silwer, brons, yster, hout en klip gemaak is, geloof.

5. Net toe het die vingers van ’n mens se hand verskyn en reg teenoor die kandelaar op die pleister van die muur van die koning se paleis begin skryf. Die koning het gesien hoe die hand begin skryf.

6. Hy het bleek geword. Hy het baie bang geword en sy knieë het teen mekaar begin klap en hy het homself vuilgemaak.

7. Die koning het geskreeu dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gehaal moes word. Hy het vir die wyse mans van Babel gesê: “As enige persoon kan lees wat hier geskryf staan en kan verklaar wat dit beteken, sal hy pers klere soos ’n koning kry, en ’n goue ketting sal om sy nek gehang word en hy sal derde in rang in my ryk aangestel word.”

8. Al die koning se wyse mense het toe gekom. Niemand kon egter lees wat daar geskryf staan, of vir die koning verduidelik wat dit beteken nie.

9. Koning Belsasar het daarom nog banger geword. Sy gesig was nou spierwit. Sy hoë amptenare was verbyster.

10. Toe sy ma hoor van die debakel waarin die koning en sy amptenare is, gaan sy na die saal waar die fees gehou is. Toe sy binnekom, sê sy: “Mag die koning lank lewe! Moenie jou so ontstel en bang wees nie.

11. Daar is ’n man in jou koninkryk in wie die gees van die heilige gode woon. In die dae van jou voorganger het dit duidelik geword dat hy insig, begrip en wysheid het soos dié van die gode self. Jou voorganger Nebukadnesar het hom aangestel as hoof oor sy towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers.

12. Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, is buitengewoon skerpsinnig en begaafd. Dit het aan die lig gekom dat hy weet hoe om drome uit te lê, raaisels op te los en probleme te ontknoop. Laat Daniël dan nou kom dat hy dit kan lees en kan verklaar wat dit beteken.”

13. Daniël is toe voor die koning gebring. Die koning vra vir Daniël: “Is jy Daniël uit die Judese ballinge wat my voorganger uit Juda gebring het?

14. Ek hoor dat die gees van die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het.

15. Die geleerdes en towenaars het probeer om te lees wat hier geskryf staan en te verklaar wat dit beteken. Maar hulle was nie in staat om dit te verduidelik nie.

16. Ek het gehoor jy kan verklarings gee en raaisels oplos. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my sê wat dit beteken, sal ek vir jou die pers klere van ’n koning gee, ’n goue ketting om jou nek hang en jou in die derde posisie in my koninkryk aanstel.”

17. Daniël antwoord die koning: “U kan maar die geskenke vir uself hou of die beloning maar vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en vir u sê wat dit beteken.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5