Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 3:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Nebukadnesar het toe opdrag aan al sy amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en al die amptenare van die provinsies gegee om bymekaar te kom vir die ingebruikneming van die beeld wat hy laat oprig het.

3. Al die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en die amptenare van die provinsies het toe bymekaargekom vir die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Hulle het voor die beeld gaan staan.

4. ’n Aankondiger het hardop uitgeroep: “Luister na dié bevel, alle volke, nasies en tale:

5. Sodra julle die trompet hoor blaas en die fluit, siter, lier, harp en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en tot die goue beeld bid wat koning Nebukadnesar laat oprig het.

6. Enigeen wat nie neerkniel om dit te aanbid nie, sal dadelik binne in ’n vuurwarm oond gegooi word.”

7. Die oomblik toe die mense uit die verskillende volke, nasies en tale die trompet, fluit, siter, harp en die ander musiekinstrumente hoor, het hulle op hulle knieë gegaan en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar laat oprig het.

8. Van die wyse manne het toe na die koning gegaan en van die Judeërs aangekla.

9. Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning lank lewe!

10. U Majesteit het mos ’n bevel uitgereik dat elkeen wat die geluid van die trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, dadelik moet neerval en die goue beeld aanbid.

11. Dié wat dit nie doen nie, sal in die vuuroond gegooi word.

12. Maar daar is Joodse mans wat nie doen wat die koning gelas het nie. Dit is Sadrag, Mesag en Abednego wat u oor die administrasie van die provinsie van Babel aangestel het. Hulle gee nie eer aan u gode nie en hulle aanbid nie die goue beeld wat u opgerig het nie.”

13. Nebukadnesar was woedend en hy het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor die koning kom,

14. het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle nie aan my gode eer wil bewys nie en nie die goue beeld wat ek opgerig het, wil aanbid nie?

Lees volledige hoofstuk Daniël 3