Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:35-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

35. Die hele beeld van yster, klei, brons, silwer en goud het inmekaargestort. Dit het geword soos kaf op die dorsvloer wat die wind wegwaai sonder dat daar ’n spoor daarvan oorbly. Die rots wat die beeld verpletter het, het ’n groot berg geword wat die hele aarde bedek het.

36. “Dit is wat u gedroom het. Ek sal nou vir die koning sê wat dit alles beteken.

37. U Majesteit, u is die koning van die konings. Die God van die hemel het vir u ’n koninkryk van mag en sterkte en aansien gegee.

38. Hy laat u regeer oor die hele mensdom, die diere in die veld en die voëls in die lug. Hy laat u oor dit alles regeer. U is daardie kop van goud.

39. “Ná u kom daar ’n koninkryk op aarde wat nie so groot soos u koninkryk is nie. Daarna kom ’n derde koninkryk van brons om oor die wêreld te regeer.

40. Daarna sal daar ’n vierde koninkryk kom wat so sterk is soos yster. Soos yster alles verpletter, so sal dit al die ander koninkryke vernietig.

41. Die voete wat van yster en klei gemaak is, wys op ’n koninkryk wat verdeeld is. Soos u yster daarin gesien het, sal dit iets van die sterkte van yster hê.

42. Soos die tone en voete deels van yster en deels van klei is, sal hierdie koninkryk deels sterk en deels swak wees.

43. Soos dit ’n mengsel is van yster en klei, sal dit deur ondertrouery alliansies met ander sluit. Maar dit sal nie hou nie, soos yster en klei nie kan meng nie.

44. “In die tyd van daardie koninkryke sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit tot niet sal gaan nie. Dit sal nooit in die hande van ander mense kom nie. Dit sal ’n einde bring aan al die ander koninkryke en self vir altyd bly bestaan.

45. Dit is wat die rots beteken wat u gesien het wat, sonder dat ’n mens dit doen, uit die berg losgebreek het en die koninkryke van yster, brons, klei, silwer en goud vernietig het. Die groot God het vir die koning gewys wat hierna sal gebeur. Die droom staan vas en sy uitleg gaan net so gebeur.”

46. Koning Nebukadnesar het toe diep voor Daniël gebuig en aan hom eer bewys. Hy het opdrag gegee om offers vir Daniël te bring en wierook vir hom te brand.

47. Die koning het vir Daniël gesê: “Sowaar, jou God is die God van alle gode en die Heer van alle konings. Hy openbaar geheime, want jy kon die geheim vir my verklaar.”

48. Die koning het toe vir Daniël bevorder en vir hom baie geskenke gegee. Hy het Daniël as regeerder oor die provinsie van Babel aangestel en as leier van al sy raadgewers in Babel.

49. Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie van Babel. Daniël self het in die poorte van die paleis aangebly.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2