Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 2:2-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Hy het sy towenaars, voorspellers, besweerders en sterrekykers laat kom om sy droom te verklaar. Hulle het toe gekom en voor die koning kom staan.

3. Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n droom gehad wat my baie ontstel het. Ek wil weet wat die droom beteken.”

4. Die sterrekykers het toe die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning lank leef! Sê vir ons wat u gedroom het en ons sal dit uitlê.”

5. Die koning het vir hulle gesê: “Ek het vas besluit dat as julle nie sowel die droom as sy verklaring vir my gee nie, julle liggame in stukke gekap sal word en van julle huise ashope gemaak sal word.

6. As julle wel vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle met geskenke beloon en julle vereer. Sê vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken!”

7. Hulle sê toe weer vir die koning: “Sê net vir u dienaars wat u gedroom het, dan sal ons kan sê wat dit beteken.”

8. Die koning sê toe: “Dis vir my duidelik dat julle probeer tyd wen. Julle het gesien dat my besluit vasstaan.

9. As julle nie vir my sê wat ek gedroom het nie, bly daar net een ding vir julle oor. Julle sweer saam om aan my leuens te verkoop in die hoop dat ek die besluit sal verander. Sê vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet dat julle ook kan verklaar wat dit beteken.”

10. Die sterrekykers het toe reguit vir die koning gesê: “Daar is nie ’n mens op aarde wat kan doen wat die koning vra nie. Geen koning, hoe sterk en magtig ook al, het al ooit so iets van enige towenaar, besweerder of sterrekyker vereis nie.

11. Wat die koning eis, is onmoontlik. Daar bestaan niemand behalwe die gode wat kan sê wat die koning gedroom het nie. En die gode woon nie tussen mense nie.”

12. Die koning het toe so kwaad geword dat hy opdrag gegee het dat al sy raadgewers in Babel tereggestel moet word.

13. ’n Wet is toe uitgevaardig dat hulle almal doodgemaak moet word. Daniël en sy vriende is ook gesoek om tereggestel te word.

14. Daniël het toe Arjok, hoof van die koning se lyfwag, taktvol en diplomaties genader. Arjok se opdrag was om al die raadgewers in Babel dood te maak.

15. Hy het vir Arjok uitgevra: “Waarom is die opdrag van die koning so onverbiddelik?” Arjok het vir Daniël verduidelik waaroor dit gaan.

16. Daniël het toe dadelik na die koning gegaan en uitstel gevra om die koning se droom te verklaar.

17. Toe is Daniël na sy huis toe waar hy sy vriende Gananja, Misael en Asarja hiervan vertel het.

Lees volledige hoofstuk Daniël 2