hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12

Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 1 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die derde jaar wat koning Jojakim oor Juda regeer het, het Nebukadnesar teen Jerusalem opgetrek. Hy was die koning van Babel. Hy het die stad beleër.

Nebukadnesar

2. Die Here het Jojakim die koning van Juda, in sy mag gegee. Toe hy terugkeer na Babel het hy van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het saam met hom gevat en dit in die voorraadkamers van sy god se tempel gaan sit.

3. Die koning het vir Aspenas, wat aan die hoof was van die paleisamptenare, opdrag gegee. Hy moes jong manne uit die koninklike families en vooraanstaandes van die Israeliete wat gevange geneem is na hom toe bring.

4. Hulle moes gesond en aantreklik wees, intelligent, goed ingelig en vinnig van begrip, geskik om in die koning se paleis diens te doen. Hulle moes ook verder onderrig word in die taal en letterkunde van die Babiloniërs.

5. Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag kos en drank uit die paleis moes kry. Hulle moes drie jaar lank opgelei word sodat hulle aan die einde daarvan as adviseurs in sy diens kon staan.

6. Daniël, Gananja, Misael en Asarja was onder hierdie jong manne uit Juda.

7. Die hoofamptenaar het vir hulle nuwe name gegee. Daniël het Beltsasar geword, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.

8. Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan verontreinig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie.

9. God het gemaak dat die hoofamptenaar van Daniël hou en hom goedgesind is.

10. Hy het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal dat julle hierdie kos en drank moet gebruik. As hy sien dat julle nie so goed lyk soos die ander van julle ouderdom nie, gaan julle my kop laat rol by die koning.”

11. Daniël het toe vir die persoon onder wie se sorg die hoofamptenaar Daniël, Gananja, Misael en Asarja geplaas het, gesê:

12. “Toets tog u dienaars vir tien dae lank. Gee vir ons net groente om te eet en water om te drink.

13. Kyk dan ná tien dae hoe ons voorkoms vergelyk met die jong manne wat wel die koning se kos eet. U kan dan besluit om met u dienaars te maak soos u goeddink.”

14. Hy het met Daniël ooreengekom en hulle tien dae lank op die proef gestel.

15. Aan die einde van die tien dae het Daniël-hulle beter en gesonder gelyk as die jong manne wat die koning se kos geëet het.

16. Daarom het die amptenaar hulle vrygestel van die koning se kos en drank. Hy het vir hulle groente gegee om te eet.

17. God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid. Vir Daniël het hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan.

18. Toe die tyd om was wat die koning bepaal het, het die hoof van die amptenare al die jong manne voor Nebukadnesar gebring.

19. Die koning het ’n onderhoud met elkeen van hulle gevoer. Hy het niemand onder hulle gekry wat die gelyke van Daniël, Gananja, Misael en Asarja was nie. Hulle is toe in die diens van die koning aangestel.

20. Hy het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk.

21. Daniël het daar gebly tot die eerste jaar waarin koning Kores regeer het.