Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 23:13-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Sy het die pasgekroonde koning gesien wat op sy plek van gesag by die pilaar, by die ingang na die tempel gestaan het. Die leiers en trompetblasers was rondom hom, en mense van oral in die land het gejuig en op trompette geblaas. Sangers met musiekinstrumente het die lofliedere gelei. Toe Atalia dit alles sien, het sy haar klere in wanhoop geskeur en geskreeu: “Verraad! Verraad!”

14. Jojada die priester beveel toe die leiers wat in bevel was van die soldate: “Neem haar uit die tempel en maak enigeen met die swaard dood wat probeer om haar te red. Moet haar nie hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

15. Hulle het haar gevang en haar tot buite die Perdepoort by die paleis gevat. Daar het hulle haar doodgemaak.

16. Daarna het Jojada ’n verbond gemaak tussen hom, die koning en die volk dat hulle ’n volk sal wees wat die Here dien.

17. Al die mense het na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het die altare vernietig en die afgodsbeelde verpletter. Hulle het ook Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.

18. Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer aan die Levitiese priesters toevertrou, volgens die voorskrifte van Dawid. Hulle moes ook brandoffers vir die Here bring soos voorgeskryf deur Moses, met gejuig en sang soos Dawid bepaal het.

19. Hy het ook poortwagters by die tempel van die Here aangewys om te sorg dat niemand kon binnegaan wat seremonieel onrein is nie.

20. Toe het die bevelvoerders oor honderd, die hooggeplaastes, die volksleiers en al die burgers van die land die koning begelei uit die tempel van die Here. Hulle het deur die boonste poort na die paleis gegaan en die koning op die koninklike troon laat sit.

21. Al die burgers van die land het gejuig en dit was rustig in die stad omdat Atalia dood was.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 23