Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 18:17-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

18. Miga het voortgegaan: “Luister na wat die Here sê! Ek het die Here sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant.

19. En die Here het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle,

20. tot ’n gees na die Here kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here.

21. “Die gees antwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oorhaal om leuens te vertel.’“‘Jy sal suksesvol wees,’ sê die Here. ‘Gaan en doen dit!’

22. “Só het die Here ’n leuengees in die monde van u profete gegee, want die Here het bepaal dat ’n ramp u sal tref.”

23. Sedekia seun van Kenaäna gaan toe na Miga en slaan hom deur die gesig: “Wanneer het die Gees van die Here my verlaat om met jou te praat?” vra hy.

24. Miga antwoord hom: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

25. Koning Agab het toe beveel: “Vat Miga en neem hom na Amon, die stadsbevelvoerder en na my seun Joas.

26. Gee hulle hierdie opdrag van die koning: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom net brood en water totdat ek veilig terugkeer van die oorlog!”

27. Maar Miga het geantwoord: “As u veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie!” Hy voeg toe by vir die omstanders: “Neem kennis van wat ek gesê het.”

28. Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle leërs teen Ramot-Gilead gelei.

29. Koning Agab het vir Josafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek myself vermom sodat niemand my sal herken nie. Maar jy moet jou koninklike kleed dra.” Agab het homself vermom en hulle het begin veg.

30. Die koning van Aram het die aanvoerders van die strydwaens beveel: “Val net die koning van Israel aan, nie al die ander soldate nie!”

31. Toe die Aramese aanvoerders van die strydwaens vir Josafat in sy koninklike kleed sien, roep hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het hulle aanval op hom gerig. Maar Josafat het tot die Here geroep om hom te red, en God het hom gehelp deur die aanval van hom af weg te keer.

32. Toe die aanvoerders van die strydwaens besef dat hy nie die koning van Israel was nie, het hulle hom nie verder agtervolg nie.

33. ’n Aramese soldaat het egter blindweg ’n pyl na die soldate van Israel afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref. “Draai om en kry my hier uit!” roep Agab vir die drywer van sy strydwa. “Ek is ernstig gewond!”

34. Die geveg het egter die hele dag gewoed en Agab het homself in die strydwa gestut en tot die aand toe teen die Arameërs geveg. Net toe die son sak, het hy gesterf.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 18