Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 9:17-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.

18. Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”

19. Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”

20. Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”

21. “Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet.

22. Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”

23. Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!”

24. Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.

25. Jehu beveel toe vir Bidkar, sy luitenant: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, aangery het? Die Here het toe hierdie uitspraak gemaak:

26. ‘So seker as Ek gister die bloed van Nabot en sy seuns gesien het, so seker sal Ek hom hier op dieselfde stuk grond vergeld.’ Daarom, vat hom en gooi hom op Nabot se grond soos die Here gesê het.”

27. Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, vlug hy in die rigting van Bet-Gan. Jehu het hom agternagesit en geskreeu: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur naby Jibleam het hulle hom op sy strydwa gewond. Hy kon tot by Megiddo vlug, maar het daar gesterf.

28. Sy dienaars het hom op ’n strydwa na Jerusalem toe geneem en hom daar in die familiegraf in die Stad van Dawid begrawe.

29. Ahasia het in die elfde jaar van koning Joram se bewind in Israel koning van Juda geword.

30. Toe Isebel, die koninginmoeder, hoor dat Jehu na Jisreël toe gekom het, het sy haar oë geverf, haar hare mooi gemaak en by ’n venster uitgekyk.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 9