Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. “Gryp dit,” sê Elisa vir hom. Die man het sy hand uitgesteek en dit gegryp.

8. Die koning van die Arameërs was in ’n oorlog teen Israel gewikkel. Hy het met sy offisiere beraadslaag en gesê: “Ons sal ons kamp op dié en dié plek opslaan.”

9. Elisa, die man van God, het egter dadelik die koning van Israel gewaarsku: “Moenie naby daardie plek gaan nie, want die Arameërs trek daarheen op.”

10. Dan het die koning boodskappers na die plek gestuur waarvan die man van God gepraat het en die mense gewaarsku. Hulle was dus op hulle hoede. Dit het etlike kere gebeur.

11. Hieroor was die koning van Aram baie ontsteld. Hy roep toe sy offisiere en vra hulle: “Wie van julle is die verraaier? Wie is dit wat die koning van Israel oor my planne inlig?”

12. “Dis nie ons nie, o Koning,” antwoord een van die offisiere. “Elisa, die profeet in Israel, vertel alles aan die koning van Israel. Selfs wat u in u slaapkamer sê, is aan hom bekend!”

13. Die koning van Aram beveel hulle toe: “Gaan en stel vas waar Elisa is. Dan stuur ek troepe om hom te vang.”Hy kry toe berig: “Elisa is in Dotan.”

14. Een nag stuur die koning van Aram toe ’n groot leër en baie perde en strydwaens om die dorp te omsingel.

15. Toe die dienaar van die man van God die volgende môre vroeg opstaan en buitentoe gaan, sien hy oral net troepe, perde en strydwaens.Benoud roep hy vir Elisa: “Ag, Meneer, wat moet ons nou maak?”

16. “Moenie bang wees nie!” sê Elisa vir hom. “Daar is meer aan ons kant as aan hulle kant!”

17. Toe bid Elisa: “Here, maak tog sy oë oop sodat hy kan sien!” Die Here het sy dienaar se oë oopgemaak. Toe hy opkyk, sien hy dat daar baie perde en strydwaens van vuur op die heuwels rondom Elisa was.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6