Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 5:7-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe die koning van Israel dit lees, het dit hom ontstel sodat hy sy klere geskeur het en sê: “Hierdie man stuur ’n melaatse na my toe om hom gesond te maak! Is ek dan God wat kan doodmaak en laat lewe? Kyk, hy soek net moeilikheid met my!”

8. Elisa, die man van God, het gehoor van die koning se reaksie en stuur toe vir hom ’n boodskap: “Hoekom is u so ontsteld? Stuur Naäman na my toe. Dan sal hy agterkom dat daar ’n ware profeet in Israel is.”

9. Naäman het met sy perde en strydwaens gekom en voor Elisa se huis gewag.

10. Maar Elisa het ’n boodskap aan hom gestuur: “Gaan en was jou sewe keer in die Jordaanrivier. Dan sal jou liggaam herstel en sal jy van die melaatsheid gesond word.”

11. Maar Naäman het baie kwaad weggegaan en gesê: “Ek het gedink hy sal uitkom en my ontmoet! Ek het verwag dat hy sy hand oor die melaatsheid sou waai en die Naam van die Here sy God aanroep en so vir my gesond maak!

12. Is die Abana en Parpar van Damaskus nie beter riviere as al die riviere van Israel saam nie? Hoekom kan ek my nie in een van hulle gaan was en so gesond word nie?” Naäman het toe omgedraai en in woede weggegaan.

13. Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?”

14. Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees!

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 5