Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 2:9-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Toe hulle oorkant aankom, sê Elia vir Elisa: “Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?”“Laat my asseblief ’n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,” antwoord Elisa.

10. “Jy vra my ’n moeilike saak,” antwoord Elia. “As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang. As jy my nie sien nie, sal dit nie gebeur nie.”

11. Terwyl hulle nog so aanstap en gesels, verskyn daar skielik ’n wa van vuur, getrek deur perde van vuur. Dit het hulle van mekaar geskei. Elia is in ’n stormwind opgeneem na die hemel toe.

12. Toe Elisa dit sien, roep hy uit: “My vader! My vader! Die strydwa en perderuiters van Israel!” Toe Elisa hom nie meer kon sien nie, het hy sy eie klere gevat en in twee geskeur.

13. Maar Elia se mantel het afgeval en Elisa het dit opgetel. Toe gaan hy terug en gaan staan by die wal van die Jordaanrivier.

14. Hy het Elia se mantel wat afgeval het, gevat, daarmee op die water geslaan en uitgeroep: “Waar is die Here, die God van Elia, ja, Hy?” Toe hy die water slaan, het dit weerskante toe verdeel sodat hy kon deurgaan.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 2