Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 15:11-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Die ander gebeurtenisse tydens Sagaria se regering is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

12. Op hierdie manier het die Here se boodskap aan Jehu waar geword, naamlik: “Jou nageslag sal tot die vierde geslag op die troon van Israel sit.”

13. Sallum seun van Jabes het koning oor Israel geword in die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda. Sallum het net een maand in Samaria geheers.

14. Toe het Menahem seun van Gadi uit Tirsa na Samaria toe gegaan. Hy het Sallum seun van Jabes aangeval, hom doodgemaak en hom as koning opgevolg.

15. Die ander gebeurtenisse tydens Sallum se bewind en die sameswering wat hy gesmee het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

16. Menahem het die dorp Tifsag aangeval en almal tot so ver as Tirsa doodgemaak omdat die inwoners geweier het om hulle poorte vir hom oop te maak. Hy het al die inwoners doodgemaak en selfs swanger vroue oopgesny.

17. In die 39ste jaar van koning Asarja se bewind in Juda het Menahem seun van Gadi begin om oor Israel te regeer. Hy het tien jaar in Samaria regeer.

18. Maar Menahem het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Gedurende sy hele bewind het hy nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel mislei het, laat vaar nie.

19. Koning Tiglat-Pileser van Assirië het die land binnegeval. Menahem het hom toe 34 ton silwer betaal om sy steun te kry sodat hy ’n beter houvas op die koningskap kon uitoefen.

20. Menahem het die geld by die rykes in Israel bekom deur te eis dat elkeen van hulle 570 gram silwer as bykomende belasting moes betaal. Die koning van Assirië het toe sy manskappe onttrek en die land verlaat.

21. Die ander gebeurtenisse tydens Menahem se bewind en wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

22. Toe hy sterf, het sy seun Pekahia hom opgevolg.

23. In die 50ste jaar van koning Asarja se regering in Juda, het Pekahia seun van Menahem koning geword oor Israel. Hy het twee jaar in Samaria regeer.

24. Maar Pekahia het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

25. Sy bevelhebber, Peka seun van Remalja, het teen hom saamgesweer. Hy het met 50 manskappe van Gilead af gekom en Pekahia saam met Argob en Arje in die toring van die paleis in Samaria aangeval. Hy het hom doodgemaak en in sy plek koning geword.

26. Die ander gebeurtenisse tydens Pekahia se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

27. Peka seun van Remalja het koning geword oor Israel in die 52ste jaar van Asarja se bewind in Juda. Hy was twintig jaar lank koning in Samaria.

28. Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie gebreek met die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie.

29. Gedurende sy bewind het koning Tiglat-Pileser van Assirië die dorpe Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor verower. Hy het ook die streke van Gilead, Galilea en Naftali verower en die inwoners as gevangenes na Assirië toe weggevoer.

30. Hosea seun van Ela het toe teen Peka seun van Remalja saamgesweer. Hy het hom aangeval, hom doodgemaak en koning van Israel geword in die twintigste jaar van Jotam seun van Asarja.

31. Die ander gebeurtenisse tydens Peka se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 15