Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 28:16-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Maar Samuel antwoord hom: “Waarom vra jy my dan as die Here jou verlaat het en jou vyand geword het?

17. Die Here het gedoen net soos Hy deur my gesê het Hy sou doen. Hy het die koningskap van jou weggeneem en dit vir iemand anders, vir Dawid, gegee.

18. Die Here doen dit omdat jy nie sy bevele oor die Amalekiete gehoorsaam het en hulle gestraf het nie. Dis hoekom die Here vandag so maak.

19. Trouens, die Here sal Israel saam met jou oorgee in die mag van die Filistyne sodat jy en jou seuns ook môre hier by my sal wees. Die Here sal toesien dat die Filistyne die hele leër van Israel verslaan.”

20. Saul het uitgestrek op die grond neergeval, lam van vrees oor die woorde van Samuel. Hy was ook flou van honger, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.

21. Toe die vrou sien hoe geweldig ontsteld hy is, sê sy: “My heer, ek het gedoen soos u gevra het en het my lewe gewaag om na u te luister.

22. Doen nou ook wat ek sê. Laat my iets vir u gee om te eet sodat u sterk kan word vir die terugreis.”

23. Maar Saul het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!” Die manne saam met hom het soos die vrou hom ook aangepor om te eet. Hy het uiteindelik toegegee en van die grond af opgestaan en op die rusbank gaan sit.

24. Die vrou het ’n vet kalf by haar huis gehad. Sy het dit geslag, deeg geknie en ongesuurde brood gebak.

25. Dit het sy vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 28