Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 16:2-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Maar Samuel vra: “Hoe kan ek dit doen? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.”“Vat ’n jong vers saam met jou,” antwoord die Here, “en sê: ‘Ek kom om ’n offer aan die Here te bring.’

3. Nooi Isai ook na die offer. Dan sal Ek jou sê watter een van sy seuns jy vir My moet salf.”

4. Samuel het gedoen wat die Here beveel het. Toe Samuel in Betlehem aankom, was die leiers van die dorp bang. Hulle vra hom toe: “Wat is verkeerd? Kom u in vrede?”

5. “Ja, in vrede,” antwoord Samuel. “Ek het gekom om ’n offer aan die Here te bring. Sorg dat julle die reinigingseremonie uitgevoer het sodat julle saam met my daaraan kan deelneem.” Hy het Isai en sy seuns self gereinig en na die geleentheid genooi.

6. Toe hulle daar aankom, kyk hy na Eliab en dink: “Dis sekerlik die Here se gesalfde!”

7. Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die Here kyk na die binnekant.”

8. Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbyloop, maar Samuel sê: “Dis ook nie die Here se keuse nie.”

9. Daarna roep Isai vir Samma, maar Samuel sê: “Hierdie een het die Here ook nie gekies nie.”

10. Sewe van Isai se seuns is so aan Samuel voorgestel, maar Samuel sê vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

11. Daarom vra hy: “Is hierdie al jou seuns?”“Die jongste is nie hier nie,” antwoord Isai. “Hy pas die skape op.”“Stuur iemand om hom te gaan haal,” sê Samuel. “Ons kan nie eet voordat hy ook hier is nie.”

12. Isai het so gemaak en hom laat roep. Hy was rooierig van voorkoms, aantreklik met mooi oë. Uiteindelik sê die Here: “Dis die regte een. Salf hom.”

13. Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop. Van toe af het die Gees van die Here kragtig in hom gewerk. Daarna het Samuel na Rama toe teruggegaan.

14. Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die Here gestuur het, het hom geteister.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 16