Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 23:13-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die seuns van Amram was Aäron en Moses. Aäron en sy afstammelinge is afgesonder om die hoogheilige dinge te wy, om offers in die Here se teenwoordigheid te bring, om die Here te dien en om altyd seëninge in sy Naam uit te spreek.

14. Wat Moses, die man van God betref, sy seuns is ingesluit by die stam van Levi.

15. Die seuns van Moses was Gersom en Eliëser.

16. Die afstammelinge van Gersom het Subael, die familieleier, ingesluit.

17. Eliëser het net een seun gehad, Regabja, wat die familieleier was. Regabja het baie afstammelinge gehad.

18. Die afstammelinge van Jishar het Selomit, die familieleier, ingesluit.

19. Die afstammelinge van Hebron was Jeria, die familieleier, Amarja, die tweede, Jagasiël, die derde, en Jekamam, die vierde.

20. Die afstammelinge van Ussiël was Miga, die familieleier, en Jissija, die tweede.

21. Die afstammelinge van Merari was Magli en Musi. Die seuns van Magli was Eleasar en Kis.

22. Eleasar is dood sonder om ’n seun te hê. Hy het net dogters gehad. Sy dogters is met hulle nefies, die seuns van Kis, getroud.

23. Die drie seuns van Musi was Magli, Eder en Jeremot.

24. Hulle was almal die afstammelinge van Levi volgens hulle families, die familieleiers, sorgvuldig aangeteken volgens hulle name. Elkeen moes twintig jaar of ouer wees om te kwalifiseer om in die huis van die Here te dien.

25. Want Dawid het gesê: “Die Here, die God van Israel, het ons vrede gegee, en Hy sal vir altyd in Jerusalem woon.

26. Nou hoef die Leviete nie meer die tabernakel en al sy voorwerpe van plek tot plek te dra nie.”

27. Dit was volgens Dawid se finale instruksies dat al die Leviete van twintig en ouer vir die dienswerk geregistreer is.

28. Die werk van die Leviete was om die priesters, die afstammelinge van Aäron, by te staan wanneer hulle in die huis van die Here dien. Hulle moes ook sorg dra vir die voorhowe en sykamers, help om die reinigingseremonies uit te voer en op baie ander maniere in die huis van God te werk.

29. Hulle was in beheer van die offerbrode wat op die tafel gesit is, die fynmeel vir die spysoffer, die ongesuurde platkoeke, die gebakte offers en die offers wat met olie gemeng is. Hulle was ook verantwoordelik om al die mate en gewigte te kontroleer.

30. En elke môre en aand het hulle voor die Here gestaan om Hom te loof en te prys.

31. Hulle het ook met die brandoffers gehelp wat op Sabbatdae vir die Here gebring is, en op nuwemane en feestye. Die regte getal Leviete het te alle tye in die Here se teenwoordigheid gedien, en hulle het al die prosedures gevolg wat vir hulle voorgeskryf is.

32. So het die Leviete onder toesig van die priesters, aan wie hulle verwant was, oor die tent van samekoms en die heiligdom gewaak en getrou hulle pligte in die tempel van die Here uitgevoer.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 23