Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 11:10-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Hulle was getrou aan Dawid en het hom saam met die hele Israel koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het.

11. Hier is die lys van Dawid se magtigste manne: Die eerste is Jasobam, die Gakmoniet, die aanvoerder van die Drie, die drie grootste soldate tussen Dawid se manne. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand in ’n enkele geveg doodgemaak.

12. Volgende tussen die Drie was Eleasar, seun van Dodo, ’n afstammeling van Agoag.

13. Hy was saam met Dawid in die geveg teen die Filistyne by Efes-Dammim. Die geveg het plaasgevind in ’n stuk land vol gars, en die Israelitiese soldate het vir die Filistyne gevlug.

14. Maar hulle het in die middel van die stuk land gaan staan en die Filistyne teruggejaag. So het die Here hulle deur ’n groot oorwinning gered.

15. Eenkeer terwyl Dawid naby die grot van Adullam was, het die Filistynse weermag in die Refaimvallei uitgekamp. Die Drie, deel van die Dertig wat Dawid se elitegevegsgroep was, het afgetrek om by hom te wees.

16. Dawid het toe in die bergvesting gaan bly, want ’n deel van die Filistynse leër het Betlehem beset.

17. Dawid het verlangend gesê: “Ag, hoe wens ek dat ek van die goeie water van die put in Betlehem kan kry, die put by die ingang!”

18. Die Drie het toe deur die laer van die Filistyne gebreek, water uit die put van Betlehem wat by die poort was, geskep en dit vir Dawid gebring. Dawid het geweier om dit te drink. Hy het dit voor die Here uitgegiet.

19. “Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink!” het hy uitgeroep. “Hierdie water is net so kosbaar as die bloed van die manne wat hulle lewe gewaag het om dit vir my te bring.” Dawid het dit nie gedrink nie. Dit is ’n voorbeeld van wat die Drie gedoen het.

20. Abisai, die broer van Joab, was die leier van die Dertig. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand doodgemaak. Dit was oor sulke kordaatstukke dat hy net so bekend geword het as die Drie.

21. Abisai was die bekendste van die Dertig en was hulle aanvoerder, alhoewel hy nie een van die Drie was nie.

22. Dan was daar ook Benaja, seun van Jojada, ’n dapper soldaat uit Kabseël. Hy het baie heldhaftige dinge gedoen. So het hy twee van Moab se grootste helde doodgemaak. ’n Ander keer het hy ’n leeu in ’n gat afgejaag. Ten spyte daarvan dat daar sneeu geval het, het hy die leeu gevang en doodgeslaan.

23. Op ’n ander keer het hy ’n Egiptiese soldaat wat amper twee en ’n half meter lank was en wie se spies so dik soos ’n wewersbalk was, met net ’n stok doodgemaak. Benaja het die spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek.

24. Dit is een van die heldedade wat Benaja so bekend soos die Drie gemaak het.

25. Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertig, maar hy was nie een van die Drie nie. Dawid het hom aanvoerder van sy lyfwag gemaak.

26. Hierdie manne is ook ingesluit onder die magtige manne van Dawid: Asael, die broer van Joab; Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem;

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 11