Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:22-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Die kapitele op die pilare was in die vorm van blomkelke. Daarmee is die werk aan die pilare afgehandel.

23. Hiram het ook ’n groot ronde waterbak gegiet, vyf meter in die deursnee, twee en ’n half meter diep en omtrent vyftien meter in die omtrek.

24. Rondom die waterbak, net onder die rand van die waterbak, was daar twee rye kalbasse gegiet in een stuk saam met die waterbak. Daar was tien in elke halwe meter.

25. Die waterbak het op twaalf beeste gerus wat uit brons gegiet is. Drie het noord gekyk, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het op hulle gerus. Hulle agterkante was onder die bak na binne gerig.

26. Die dikte van die wande van die waterbak was omtrent nege sentimeter en sy rand was soos ’n beker se rand, in die vorm van ’n leliekelk. Dit kon ongeveer 44 kiloliter hou.

27. Hiram het ook tien waentjies van brons gemaak. Elkeen was twee meter lank, twee meter breed en ’n halwe meter hoog.

28. Hulle is gemaak met sypanele wat aan die rame vasgesit is.

29. Sowel die sypanele as die rame is versier met leeus, beeste en gerubs. Aan die bokant en onderkant van die leeus en die beeste is dit met kranse versier.

30. Daar was vier wiele aan asse van brons by die vier voetstukke van elke waentjie. Die waskom het op staanders gerus wat met kransies aan die kante gegiet is.

31. Die bokant van elke waentjie het ’n ronde raam waarin die wasbak gepas het. Dit het ’n halwe meter bokant die bopunt van die waentjie uitgesteek en was ’n driekwart meter in deursnee. Rondom was daar graveerwerk. Die sypanele van die waentjies was vierkantig en nie rond nie.

32. Onder die sypanele was daar vier wiele wat aan die asse vas was.

33. Elke wiel was ’n driekwart meter in deursnee en was soos strydwawiele gemaak. Die asse, speke en nawe was alles in een stuk gegiet.

34. Op elkeen van die hoeke van die waentjies was daar staanders wat in een stuk met die waentjie gemaak is.

35. Rondom die bokant van elke waentjie was daar ’n ronde staander, ’n kwart meter hoog, met staanders en sypanele wat die kante toegemaak het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7