Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 7:14-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Hy was ’n vakman in bronswerk. Hy het oor die vaardigheid, begrip en kennis beskik om enigiets te maak wat aan hom opgedra was. Sy ma was ’n weduwee uit die stam Naftali en sy pa was ’n vakman in bronswerk uit Tirus.

15. Hiram het twee bronspilare gegiet, elkeen nege meter hoog en ses meter in omtrek.

16. Hy het ook twee kapitele uit brons gegiet om bo-op die pilare te sit. Elkeen was twee en ’n half meter hoog.

17. Elke kapiteel was versier met sewe stelle ineengevlegte kettings.

18. Hy het ook twee rye granate gemaak wat rondom die netwerke gegaan het om die kapitele te verfraai. Dit het hy met elke kapiteel gedoen.

19. Die kapitele op die pilare in die voorportaal was in die vorm van blomkelke. Hulle was twee meter hoog.

20. Aan die bokant van elke kapiteel, waar die blomkelke begin dikker word en net bokant die netwerk, was daar 200 granate in twee rye.

21. Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een was aan die suidekant en die ander aan die noordekant. Die een aan die suidekant het hy Jakin genoem en die een aan die noordekant Boas.

22. Die kapitele op die pilare was in die vorm van blomkelke. Daarmee is die werk aan die pilare afgehandel.

23. Hiram het ook ’n groot ronde waterbak gegiet, vyf meter in die deursnee, twee en ’n half meter diep en omtrent vyftien meter in die omtrek.

24. Rondom die waterbak, net onder die rand van die waterbak, was daar twee rye kalbasse gegiet in een stuk saam met die waterbak. Daar was tien in elke halwe meter.

25. Die waterbak het op twaalf beeste gerus wat uit brons gegiet is. Drie het noord gekyk, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het op hulle gerus. Hulle agterkante was onder die bak na binne gerig.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 7