Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 6:7-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die klippe vir die bou van die tempel is reeds by die steengroef reg gekap. Gevolglik kon die hele gebou opgerig word sonder die geluid van hamers, beitels of enige ander ysterwerktuig.

8. Die ingang na die onderste vlak was aan die suidekant van die tempel. Daar was wenteltrappe waarmee ’n mens na die tweede vlak kon opgaan, en van daar na die boonste een.

9. Nadat Salomo die tempel voltooi het, het hy ’n dak van sederhoutbalke en planke gemaak.

10. Die vlakke op die platform buite om die gebou was elkeen twee en ’n half meter bo mekaar. Dit was met sederbalke in die tempelmuur vasgesit.

11. Die woord van die Here het weer na Salomo toe gekom:

12. “Jy bou nou hierdie tempel vir My, maar as jy al my bepalings en voorskrifte hou en my gebooie gehoorsaam, sal Ek vir jou doen wat Ek aan jou pa, Dawid, belowe het.

13. Ek sal tussen die Israeliete woon en nooit my volk in die steek laat nie.”

14. Salomo het die tempel voltooi.

15. Hy het al die mure en die plafon aan die binnekant met sederplanke bedek. Die vloer het hy van sipreshout gemaak.

16. Hy het aan die agterkant in die tempel ’n afskorting van die vloer tot teen die plafon gebou met sederplanke tien meter lank. Dit was die binneste heiligdom, genoem die Allerheiligste.

17. Die groter deel aan die binnekant van die tempel was die heiligdom. Dit was twintig meter lank.

18. Al die klipmure van die tempel aan die binnekant was beslaan met sederplanke waarop daar kalbasse en blomme uitgesny was. Alles was met sederhout bedek sodat niks van die klip sigbaar was nie.

19. Salomo het die binneste heiligdom agter in die tempel ingerig as die plek waar die ark van die Here gesit kon word.

20. Die afmetings van die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Die mure en plafon en ook die altaar met sederhout is met suiwer goud oorgetrek.

21. Daarna het hy die res van die tempel aan die binnekant met suiwer goud bedek. Hy het ook goue kettings gespan voor die ingang na die binneste heiligdom, wat ook met goud bedek was.

22. Hy het die hele tempel, asook die altaar in die binneste heiligdom met goud bedek.

23. In die binneste heiligdom het Salomo twee gerubs van olyfhout gesit. Elkeen was vyf meter hoog.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 6