Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. daarom sal Ek vir jou gee wat jy gevra het. Ek sal jou die vermoë gee van wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het of na jou sal hê nie!

13. Daarby gee Ek vir jou ook dit waarvoor jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien. So lank as wat jy leef, sal geen koning met jou vergelyk kan word nie.

14. As jy My dien en gehoorsaam is aan my voorskrifte en bepalings soos jou pa, Dawid, sal Ek jou ’n lang lewe gee.”

15. Toe het Salomo wakker geword en besef dat dit ’n droom was. Hy het na Jerusalem toe teruggekeer en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het hy al sy amptenare op ’n groot feesmaal trakteer.

16. ’n Tyd daarna het twee prostitute na die koning toe gekom vir beslegting van ’n geskil.

17. “Asseblief, my heer die koning,” het die een gesê, “ek en hierdie vrou bly saam in dieselfde huis. Ek het ’n baba in die wêreld gebring terwyl sy by my in die huis was.

18. Drie dae later het sy ook ’n baba gehad. Ons was alleen, en daar was geen ander persoon nie. Dis net die twee van ons wat in die huis was.

19. Een nag het haar seuntjie gesterf toe sy op hom gelê het.

20. In die middel van die nag het sy opgestaan terwyl ek nog geslaap het en my seuntjie gevat. Sy neem toe haar dooie kind, lê hom in my arms en neem myne om by haar te slaap.

21. Toe ek in die oggend my kind wou laat drink, ontdek ek dat hy dood is! Maar toe ek hom later in die oggend goed bekyk, merk ek dat dit glad nie my seun is nie.”

22. Die ander vrou val haar toe in die rede: “Nee! Die een wat lewe, is my seun! Die dooie een is beslis jou seun!”“Nee,” sê die eerste vrou, “die seuntjie wat dood is, is joune en die lewende een is myne!” So het hulle voor die koning met mekaar gestry.

23. Toe sê die koning: “Albei van julle maak aanspraak op die lewende kind, en albei sê die dooie een is die ander een s’n.

24. Goed, bring vir my ’n swaard.” Iemand het vir hom ’n swaard gebring.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3