Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Salomo het ’n verdrag gesluit met Farao, die koning van Egipte. Hy het met een van sy dogters getrou en haar na die Dawidstad toe gebring. Hy het haar daar laat woon totdat hy sy paleis, die tempel van die Here en die muur rondom die stad voltooi het.

2. Toe het die Israeliete nog oral op die hoogtes geoffer omdat daar nog nie ’n tempel tot eer van die Naam van die Here was nie.

3. Salomo het die Here liefgehad en het volgens die voorskrifte van sy pa, Dawid, gelewe. Hy het egter ook nog op die hoogtes geoffer.

4. Die belangrikste van hierdie altare was by Gibeon. Daarom het die koning daarheen gegaan en 1 000 brandoffers geoffer.

5. Daardie nag het die Here in Gibeon in ’n droom aan Salomo verskyn en God het gesê: “Vra wat jy wil hê en Ek sal dit vir jou gee!”

6. Salomo het geantwoord: “U was baie goed vir my pa, Dawid, omdat hy eerlik, opreg en getrou aan U was. U was besonder goed deur boonop vir hom ’n seun te gee wat hom kon opvolg.

7. O Here my God, U het my koning gemaak in die plek van my pa, Dawid. Maar ek is soos ’n klein seuntjie wat nog nie weet hoe om op te tree nie.

8. Hier is ek tussen die mense van die volk wat U uitverkies het, ’n volk so talryk dat hulle nie getel kan word nie!

9. Gee my tog die vermoë om met verstandigheid en regverdigheid oor u volk te regeer, want wie kan op sy eie oor hierdie groot volk van U regeer?”

10. Die Here was tevrede met Salomo se antwoord en was bly dat hy hierdie dinge gevra het.

11. Die Here het hom geantwoord: “Omdat jy dit gevra het en nie vir ’n lang lewe of rykdom of die dood van jou vyande nie, maar vir onderskeiding om met insig te kan oordeel;

12. daarom sal Ek vir jou gee wat jy gevra het. Ek sal jou die vermoë gee van wysheid en insig soos niemand voor jou gehad het of na jou sal hê nie!

13. Daarby gee Ek vir jou ook dit waarvoor jy nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien. So lank as wat jy leef, sal geen koning met jou vergelyk kan word nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3