Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Maar Josafat vra: “Is hier nie dalk ook nog ’n ander profeet van die Here vir wie ons kan raadpleeg nie?”

8. Koning Agab antwoord: “Hier is nog een van die Here se profete wat ons kan raadpleeg. Maar ek haat hom, want hy het net altyd slegte nuus vir my. Sy naam is Miga seun van Jimla.”“Jy moet liewer nie so praat nie!” sê Josafat.

9. Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gaan gou en bring Miga seun van Jimla hiernatoe.”

10. Koning Agab en koning Josafat het albei hulle koninklike klere aangehad. Hulle het elkeen op sy troon op die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al die profete was besig om hulle voorspellings daar voor hulle te maak.

11. Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het ’n paar ysterhorings gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: ‘Met hierdie horings sal u die Arameërs platstoot en uitwis!’”

12. Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” sê hulle, “trek op teen Ramot-Gilead en verslaan hulle, want die Here gee vir u die oorwinning!”

13. Intussen het die boodskapper wat vir Miga gaan roep het hom gewaarsku: “Luister, al die profete voorspel ’n oorwinning vir die koning. Jy moet liewer met hulle saamstem en ook ’n gunstige aankondiging maak.”

14. Maar Miga antwoord: “So seker as die Here leef, ek sal net dit sê wat die Here my beveel om te sê.”

15. Toe Miga by die koning aankom, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons optrek teen Ramot-Gilead? Of moet ons dit nie doen nie?”Miga het geantwoord: “Ja, trek maar op! Die Here sal die stad in die koning se mag oorgee.”

16. Maar die koning berispe hom: “Hoeveel keer moet ek jou nog sê om net die waarheid te praat wanneer jy namens die Here ’n uitspraak gee?”

17. Toe sê Miga vir hom: “In ’n visioen het ek Israel gesien, verstrooi op die berge soos skape sonder ’n herder. Die Here het gesê: ‘Hulle koning is dood. Laat elkeen van hulle maar in vrede teruggaan na sy huis toe.’”

18. “Het ek nie vir jou gesê nie?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy gee nooit enige uitspraak ten gunste van my nie.”

19. Miga het voortgegaan: “Luister wat die Here sê. Ek het die Here gesien waar Hy op sy troon sit met die hemelse leërmag weerskante van Hom.

20. Die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab gaan oortuig om teen Ramot-Gilead oorlog te maak sodat hy daar kan omkom?’ Hulle het hiernatoe en daarnatoe gepraat.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22