Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:3-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Tydens die besoek sê Agab vir sy amptenare: “Besef julle dat die Arameërs nog steeds ons stad Ramot-Gilead beset? En ons het niks daaraan gedoen nie!”

4. Toe vra hy vir Josafat: “Sal jy saam met my gaan veg by Ramot-Gilead?”Josafat het Agab geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, en ook my perde.”

5. Josafat voeg egter by: “Maar laat ons net eers die Here raadpleeg.”

6. Die koning van Israel laat roep toe die profete, omtrent 400 van hulle. Hy vra hulle: “Moet ek teen Ramot-Gilead optrek? Of moet ek dit liewer nie doen nie?”Hulle antwoord: “Gaan gerus. Die Here gee die stad oor in u mag!”

7. Maar Josafat vra: “Is hier nie dalk ook nog ’n ander profeet van die Here vir wie ons kan raadpleeg nie?”

8. Koning Agab antwoord: “Hier is nog een van die Here se profete wat ons kan raadpleeg. Maar ek haat hom, want hy het net altyd slegte nuus vir my. Sy naam is Miga seun van Jimla.”“Jy moet liewer nie so praat nie!” sê Josafat.

9. Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gaan gou en bring Miga seun van Jimla hiernatoe.”

10. Koning Agab en koning Josafat het albei hulle koninklike klere aangehad. Hulle het elkeen op sy troon op die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al die profete was besig om hulle voorspellings daar voor hulle te maak.

11. Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het ’n paar ysterhorings gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: ‘Met hierdie horings sal u die Arameërs platstoot en uitwis!’”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22